Blog Archive

Tuesday, 25 June 2013

Om te hoop...

Ons praat so maklik van hoop, in alledaagse sinne en soms so ligtelik.  Ons sal sê:  "Ek hoop om jou gou weer te sien", of; "Ek hoop die naweek kom gou".  Maar dan eendag kom jou winter-seisoen se swaarkry en hoop word 'n belewenis, 'n elke dag se besluit, hoop word bevorder na HOOP!

Juneldè het hierdie week ons opnuut weer kom leer van hierdie HOOP.  Die wêreld het ons soms gelei na die afgrond van wanhoop, en trane sit vlak met moedeloosheid wat wink om omarm te word.  Daar is nuwe dokters, en susters en nuwe realisme en mediese feite.  Maar ongeag maak ons dan opnuut die besluit: "There is no such thing as false hope, only false despair..." En wanneer man en vrou weer voor die Vader kniel en opreg vra vir nuwe HOOP, dan ontvang jy dit in jou hart.  Volgende keer wat ons in Juneldè se ICU kamer inloop, dra die glimlagte op ons gesig hierdie hoopvolle gesindheid oor...

En so vinnig en intens as wat Juneldè se terugslag was, so vinnig en intens is haar herstel. Vir'n hele week in ICU is Juneldè se spasma iets van die verlede, en kuier ons gesinnetjie lekker langs haar bed.  Sy slaap so soet soos 'n baba, haar lyfie is ontspanne, en vir lang tye is haar ogies helder wakker en aan die rondkyk.  Daar is herkenning in haar oë wanneer sy dit na ons draai en probeer fokus op mamma en pappa se gesigte.  Ons ontmoet 'n nuwe arbeidsterapeut wat 'n onmiddelikke aanklank by sussa vind, en haar soos 'n koeksister om 'n teddy vou.  Ons kry kersversierings bymekaar wat klokkies maak en ons poppie se pragtige gesig saam met die lig weerkaats.  Alles in die vaste HOOP dat haar ogies kan sien...

Die Here stuur ook 'n groep vreemdelinge wat gou broers en susters raak in Sy nabyheid.  Hulle kom na die hospitaal om vir ons te bid, en vir Juneldè 'n gesalfde beertjie te bring.  Hulle bring ook 'n boodskap van HOOP en bid opnuut vir ons vaste geloof in Sy beloftes...

Die dieetkundige werk saam ons aan 'n plan om Juneldè op purees voeding te kry hierdie week, met slegs blikmelk as byvoeding.  Dis met opgewondenheid wat ons die hoop uitspreek dat sy hierdie lekker kossies deur haar Mickey sal kan inneem, en ook dat haar spysverteringstelsel al genoeg genees is om normaal te funksioneer.

En toe ek myself vang dat ek sê:  "Ek hoop die purees werk...",  draai ek my gees en siel na Hom en sê:  "Here, in u lê ons HOOP"...

                                            Juneldè se teddiebeer is in 'n koeksister greep vasgevang, waaruit
                                            hy hoop om gou vry te kom...

1 comment:

  1. Rhonel, Baie dankie dat jy hierdie gebeurtenis met ons deel. As mammas van pienk voete maak dit ons net weereens paraat. Weet dat julle as gesin in ons gebede is. Mag God julle versterk en HOOP gee. In Hom is ALLES moontlik. Liefde Elsjé Zietsman

    ReplyDelete