Blog Archive

Friday, 24 May 2013

13 Jan 2013 (Deel 1)

Hoe skryf mens oor 'n dag wat jou lewe onherroeplik verander het?  Skryf jy dit feitelik en akadamies, in die derde persoon?  Of skryf jy dit emosioneel soos wat die gebeurtenis regverdig?  Skryf jy vanuit jou eie perspektief of skryf jy eers nadat jy een en elkeen wat die dag meegemaak het se stories saam kon vervleg?

Ek het nie die antwoord op al hierdie vrae, ek worstel daarmee want ek is die "mamma" in hierdie verhaal, my ervaring en belewenis van hierdie dag is hoogs subjektief, saamgestel uit my persoonlike sintuie en raamwerke.  Ek kan dus nie anders gesels oor hierdie dag as om al hierdie elemente saam te voeg en mee te deel nie.  In werklikheid is als van hierdie dag so onmoontlik glashelder, moment vir moment, en tog so onmoontlik deurmekaar...

Ons sondag begin so bekend, met die plofklank af in die gang soos Juneldè van haar bed afklim, ek hoor die deur oopgaan en die trippelende draffie na ons kamer toe.  Sy hop op die bed en kom lê tussen my en haar pappa.  Ek hou my oë toe want as die dame snuf in die neus kry dat ek wakker is, is dit neusie verby vir nog insluimer.  Ek hoor haar giggel langs my, ek loer deur skrefiesoë en sien sy lag vir Julius.  Hy is baie ligsensitief en het hierdie spesifieke oggend 'n vliegtuig oogskerm op sy oë gesit.  Sy sien my loer en wys na Julius met so krom vingertjiee  "(gie, gie) Kyk vir pappa...." lag sy agter haar hand.

Ons 3 lê en kuier in die bed en ek sê vir haar ons moet klaarmaak vir kerk "Jippeee, kerk!" is haar kommentaar.  Ek onthou nog hoe ek draai na Julius en sê  "Ons moet iets regdoen as sy so excited kan raak oor kerk!".

Ek trek haar pienk rokkie aan, sit haar kopband met rosies op, trek haar nuwe pienk skoene aan, en sy is so ingenome met hoe sy lyk.  Sy gaan draai voor pappa dat haar rokkie uitklok, terwyl hy vir haar fluit.

Ons gaan kerk toe en dis sussa se eerste oggend by die kinderkerk.  Hulle hou poppekas en sy kry 'n (morsige) ysie.  Ons gaan haal haar na kerk en in antwoord oor of sy dit geniet het sê sy "Ja, maar ek mag nie met die poppe speel nie..."  Ek en Julius lag al die pad tot by die kar.

Poplap raak in die kar aan die slaap en by die huis gekom maak ons reg vir 'n ontspanne sondag braai en kuier saam vriende.  Ek maak Cremoratert en slaai, Julius kry solank die braai reg.  Ons pêlle daag op saam hulle kids.  Ons vrouens kuier op die stoep terwyl die kinders swem en die manne braai...

Dit is tyd vir eet en ons sit aan by die tafel.  Ek kyk rondom my en my oog val op die swembad, ek hoor 'n stemmetjie wat sê  "Maak toe daai swembad" (ons het 'n soliede seil op wat met rails vasdraai want ek is absoluut paranoid oor die risikos).  Ek assesseer die situasie, die twee kleintjies Holden en Juneldè het nog vlerkies aan en ek meet vinnig die afstand tussen die eettafel en die swembad, en neem die besluit dat dit ok is, ek kan 'n ogie hou...Ek sal altyd terugdink aan daardie oomblik met die opregte wens dat ek die seil laat opsit het, maar dit vat heelwat mannekrag en ons was van plan om na ete almal weer te gaan swem.  Ek was ook meer gerus want na ons Desember vakansie het Juneldè al heel oulik in die swembad ingespring, en met sulke vinnige voetjies haarself na bo geskop tot die koppie bo die water uitsteek.  In my menslike arrogansie het ek Desember nog gedink ek voel verlig want ons kan nou meer gerus voel noudat sy amper kan swem.  Glo my, niks wat jy teen my kan hou of dink, kom naby die selfverwyt dat ek nie geluister het nie, dat ek te gerus was hierdie dag...

Aan etenstafel het ons klein dame tussen my en Julius gesit en 'n boereworsie eet.  Sy het gestoei met haar vlerkies en sy het dit afgewriemel vir groter gemak.  Sy het afgeklim van die stoel en by die maatjies voor die koffietafel gaan sit.  Ek het opgekyk en gesien hoe sy met haar vriendinnetjie gesels, so "animated" en pragtig!  My hart het geswel van liefde...

Ek het weer afgekyk na my bord, besluit of ek nog 'n happie kos gaan skep, en op die aartappels besluit.  Julius het weer slaai geskep en ons het verder geëet.  Ek het skielik 'n onrustigheid in my hart gehad en begin rondkyk.  Julius sien hierdie gebaar en tegelykertyd vra ons:  "Waar is Junelde?".  Ek kyk op en my oog vang die oop swembad net buite die deure voor my.  Ek sê:  "  Gaan kyk by die swembad, hy is oop"....Na die woorde uit is wonder ek self oor die dringendheid in my stem, ek kan mos sien Juneldè is nie in die swembad nie?  Sy is seker gou toilet toe, of in haar kamer.  Sy weet mos goed dat sy nie naby die swembad alleen mag gaan nie, net die vorige dag het sy nog 'n duif van die seil afgejaag met die woorde:  "Af duif, mamma en pappa gaan jou boude piets as jy daar kom!"

Dit alles dink ek terwyl Julius swembad toe loop, ek sien hou hy op die stoep op loop om na die swembad te kyk en begin omdraai.  Hy stop in sy spore, draai terug en loop tot op die kant...Ek hoor hom sê:  "O nee...."  En hy spring klere en al in...

Hoe beskryf mens die toon in sy stem?  Die skok, angs en ongeloof...Die gevoel in jouself as jy opspring by daai tafel en WEET jou kind is daar onder die water!

Ek spring op, begin skreeu, my voete dra my tot net voor die stoep en ek sien hoe Julius met Juneldè na bo kom...Hy blaas in haar mondjie in voor hy haar op die kant neersit.  Sy bring op in sy mond en bo-oor hom en ek wil wil verlig raak. Toe sien ek haar, sy is blou om die mond, haar oë is gedilateer en na agter gedraai.  Ek besef wat geen ma moet besef nie:  "My kind is dood...."

Op my knieë skreeu ek "Here Jesus, nee, Here Jesus, nee, Here Jesus!!!!!!"  Ek pleit en smeek om my kind se lewe by Hom.

In die proses het my vriendin, my Jonathan, saam met Julius begin CPR doen op Juneldè.  Ek hoor haar sê:  "Kom sussie, haal asem, kom sussie...."

Ek spring op, wil na my kind toe gaan...Ons vriend keer my af by die kant van die stoep.  "Rhonel nee, nie nou nie..."  Hy wil my beskerm om te sien hoe sy lyk, leweloos en blou, terwyl haar pappa asem in haar inblaas en haar hartjie masseer.

Die voordeur klokkie lui en asof buite myself maak ek die voordeur oop en sien ons buurvrou staan.  "Wat is fout?"  skree sy.  "My kind het verdrink, kan jy CPR doen?" antwoord ek.  "Ja, ja, maak oop!".  Ek maak die hekkie oop, hardloop saam haar die huis in, stamp haar swembad toe.  Ek sien hoe Julius soek vir 'n pols en hoe buurvrou oor my poppie buk en oorneem by my vriendin met CPR.

Intussen het ons ander vriendin die geskokte, huilende ander kinders al drie na die studeerkamer getrek en uit hulle harte vir Juneldè begin bid...

Ons sukkel om die ambulans te ontbied, hulle is baie besig is die antwoord, en hulle kan nie die adres spel nie.  Julius skreeu na ons ander vriend se kant:  " Slaan af jou kar se sitplekke, ons gaan self ry"...

Word vervolg...

Soos ek hier sit is my emosies rou, my hart seer, my dankbaarheid teenoor Hom so groot.  Hy het ons gebede verhoor en was elke oomblik van hierdie dag met ons, in ons, om ons...

Maar steeds wonder ek in ongeloof hoe die lewe in een dag, in een oomblik, binne twee minute onder water, kan verander vanaf prentjie 1 na prentjie 2?




2 comments:

  1. Ai, Rhonel. Ek weet hoe julle voel,maar ek was baie gelukkig...ek was net 5 tree van die swembad af en Nicola het nog gespook om bo te probeer uitkom...en ek het juis daar naby gesit en dop hou (oor ek ook parenoies is!!), maar vir n oogwink het iemand my aandag afgetrek en in daardie oogwink het sy uit haar vlerkkies geglip (dis moes afgeblaas het) en onder die water beland. Ek bid elke dag dag sy nog n treetjie kan gee vandag op haar pad na volkome herstel. Julle is in my gedagtes elke dag en ek weet Hy het nog GROOT planne vir haar!

    ReplyDelete
  2. Ek verwonder jou dat jy so sterk is en ek kan net myself indink hoe moeg en moedeloos jy moet voel - weet dat daar soveel is wat julle elke dag opdra, so wanneer jy moeg voel - Dis ok. Lief' Jesus dra jou, want jy is sy kind! Ek bly glo en vertrou vir herstel. Liefde, Nicoleen

    ReplyDelete