Blog Archive

Monday, 27 May 2013

13 Jan 2013 (Deel 2)

Daar waar ek op my knieë sit op die stoep en na ons Skepper en Vader roep, kyk ek telkens op en sien ons buurman en sy broer wat agter ons woon op die muur sit.  Hulle uitdrukkings reflekteer my eie skok en histerie, hulle buig hulle hoofde en ek hoor hul smeekbede eggo in my eie...

Die beeld van Julius wat opspring met Juneldè se slap lyfie, arms en bene hangende in die mees onnatuurlike posisies, en deur die huis hardloop na ons vriend se kar wat in gereedheid staan, is vasgegom aan my geheue.  Ek hou telkens asem op want hy gly en gly al die pad kar toe met sy sopnat lyf en voete, hy bly genadiglik regop en spring agter in die motor en vervat CPR, buurvrou spring agterna en help hom.  Ek spring voorin die motor, maar êrens in my deurmekaar brein herroep ek verhale van hospitale wat jou weier sonder 'n mediese fonds kaart.  Ek besef nou dit was nie nodig nie, maar ek spring uit die motor en hardloop terug in die huis in, gryp my handsak en selfoon.  Dit alles duur sekondes, maar toe ek terugkom in die motorhuis het ons vriend alreeds teruggestoot straat toe en is oppad om te ry.  Kyk, ek is en was nog nooit 'n atleet nie, maar in hierdie oomblik is ek vasbeslote om in daai kar te kom en ek hardloop kaalvoet die kar in, pluk die deur oop en val voorin die alreeds bewegende motor...

Die rit hospitaal toe voel nou nog so onwerklik.  Telkens kyk ek terug na Juneldè op die agtersitplek en met elke terugblik kan ek sien dat sy nie meer met ons is nie en dat ek net na 'n lyfie kyk sonder my engelkind se lewe en sprankel.  In absolute magteloosheid lê ek oor na die stuur se kant en help toeter blaas.  Ons vriend vat my hand en sê:  "Dis ok Rhonel, ek het dit"...Ons lê die 20 minute rit na Unitas af in 7 lang, eindelose minute.  Oppad kry ek die insig om Unitas te skakel  "My child has drowned, we are on our way, please get the emergency personnel ready!".  Ek hoor myself dit sê en ek skrik self oor die rou histerie in my stem.

Uiteindelik is ons by Unitas, die sekuriteit beduie ons na die groot deure by die ER en ons stop.  Buurvrou gryp vir sussa, en hardloop eers gedisoriëenteerd na die verkeerde ingang.  Weereens sien ek my poplap se slap, lewelose lyfie hang in iemand se arms.  Die mediese personeel wat gereed gestaan het gryp Juneldè, lê haar op 'n kliniese hospitaal bed neer en sny haar swembroekie van haar lyfie af.  'n Swembroekie wat ek net-nou nog aan haar lyfie getrek het, saam gelag het oor ek haar probeer oortuig om 'n blou "pampie" saam haar swemtoppie aan te trek, want haar ander swembroek was soek.  En nou kyk ek na dieselfde "pampie" wat vuil is soos haar magie gegaan het en ek word yskoud, weereens 'n bevestiging van dit wat is, want ek weet hoekom 'n magie in trauma beheer verloor...

Daar is soveel personeel om haar bed en ons uitsluit en afskerm van dit wat hulle met ons kleine lyfie doen.  Die dokter vra vrae waarop my brein nie kan antwoord nie..."Hoe oud is sy?"  "Hoeveel weeg sy?"  "Hoe lank was sy in die water?"....Hulle identifiseer Julius gou as die meer regdenkende van ons twee en ek word weggelei na die ontvangkamer.  Alleen stap ek die vertrek binne en kyk hoe almal so absoluut gewoon lyk en aangaan met hulle dagtake.  "My kind het verdrink!" wil ek skreeu."Sy gaan leef!"  wil ek skreeu en beaam hoor.  Ons vriend sluit by my aan met buurvrou agterna, ek hang in sy sterk arms, soek na antwoorde in sy oë, ek roep sy naam en sien in sy oë die magteloosheid om antwoorde te gee, om berusting te bring, stil hou hy my staande.

Ek word weggelei na 'n klein kamertjie en ek loop heen en weer soos 'n besetene, ek is radeloos buite myself.  Ek sê vir buurvou:  "Gaan sy ok wees?"  Buurvrou:  "Dit lyk nie goed nie, sy het pas geeët..."  "Nee, nee, dis my enigste kind, ek kan nie nog kinders hê nie, NEE NEE!"  Ek sak af teen die muur en huil, ek het absoluut geen meer beheer oor my emosies nie.  Ek voel uitgelewer, blootgestel, onmoontlik alleen...

Hierna is als vaag, 'n waas van mense wat kom en gaan.  'n Gewag om die woorde te hoor wat ek na smag.  Erens sluit Julius by ons aan, druipnat en verdwaas.  Hy vra die suster om vir my 'n kalmeermiddel te gee.  Ek besef dat ek my familie wil laat weet, my ouers is in die Kaap, my broers in Johannesburg.  Ek bel maar my foon wil nie uitbel nie.  Ons vriend neem hierdie moeilike taak oor en verwittig ons familie.  Ons wag....en wag...Ons pastoor sluit by ons aan, my vriendin het hom laat kom, ons is baie na aan hierdie vriend van ons, hy het Juneldè van geboorte af leer ken en liefkry, hy het haar ingeseën.  Hy bid saam my, roep bloot na die Here se naam.  Ek sien die dr uitdrukkingloos in die deur staan, ek en Julius gaan uit en staan saam hom in die gang.  'n Glimlag breek deur en hy sê "Ons het 'n hartkop terug en alhoewel sy aan die ventilator gekoppel is, probeer sy elke derde asemteug self neem"...Ons is onmeetbaar verlig.  "Daar is 'n nuwe terapie genaamd hypotermiese behandeling waar die pasiënt se temperatuur afgekoel word deur 'n spesiale yspak aan te trek.  Hierdie behandeling poog om verdere degenerasie van die breinselle te verkom.  Ons gaan haar oorskuif na die pediatriese ICU toe..."

Saam stap ons na die wagkamer van die PICU, saam wag ons om ons poplap te sien.  Die pediater kom na ons..."Die prognose is nie goed nie, ons gaan haar per helikopter oorplaas na Dr Bartlett by Garden City, hy spesialiseer in amper verdrinkings"  Ek lees soveel onuitgesproke realiteite in haar oë, maar ek weier om dit te glo.  My broers en skoonsussies daag op, ons gryp mekaar vas.  "Ai Nella", probeer hulle vertroos.  Daar is werklik niks wat ons vir mekaar kan sê nie.  Daar word tee en koeldrank en sjokolade gekoop, en ons wag...Die mediese fonds weier om vir die helikopter te betaal en die pediater bel rond vir goedkeuring.  En ons wag...Ons kan na ons poppie toe gaan, yskoud lê ons lyfie in die bed met 'n wit pakkie aan en masjiene wat haar aan die lewe hou.  Hoe is dit moontlik?!  My kind ,my kind!  Ek is verdwaas, geskok en ek bid, en bid.  En ons bid en bid...Daar daag heelwat vriende op, van ons sel en kerk, van ons vriende wat saam gebraai het.  Ons peetkind wat als aanskou het die middag kom na my:  "Neldè slapies net tannie Nel".  En ek glo dit, ek GLO dit!

Tienuur daardie aand daag die helikopter op.  Ons het sewentien minute oor drie by die hospitaal aangekom.  Ek en Julius word aangesê om vooruit te ry om al die papierwerk by Garden City in orde te kry.  My broer en sy vrou bly agter saam met ons vriende om Juneldè af te sien.  Die rit op die hoofweg na Garden City in Johannesburg is lank, onwerklik, ek voel stom.  Ek sê vir Julius:  "My lief, daai kruis in die ER met geloof, hoop en liefde opgeskryf was nie toevallig nie.  Ons Here het gekies om Juneldè aan ons terug te gee, Hy het haar asem teruggeblaas, nou moet ons vashou en "audaciously" hoop..."

By Garden City word ons oorweldig deur papierwerk terwyl ons weereens wag.  Ons hoor die helikopter arriveer, en ons meisiekind word ingestoot, piepklein op 'n stretcher, vasgepak deur stutte sodat sy amper wegraak.  Ons begelei haar tot by die PICU se deure en word gevra om te wag sodat hulle haar kan stabiliseer en behandel.  Die dr haas by ons verby...Ons word ingeroep na 'n klein kamertjie en dr Bartlett praat met ons oor die harde feite, die realiteite wat mens se verstand nie wil begryp nie.  Juneldè het 'n 50% kans om nie te oorleef nie, en 'n 50% kans om te oorleef maar met breinskade of in 'n vegetative staat...Die prognose is dus nie goed nie, wil ons voortgaan om haar lewe te red met medici?  Ja, ja! Natuurlik!  Hoe sê enige ouer nee, waar daar lewe is is hoop en sal ons saam met Hom aanhou baklei vir haar volkome herstel.

Dit is al na elfuur die aand, die personeel vra of hulle Juneldè se hare mag afskeur want sy moet 'n monitor in haar skedel na haar brein toe kry...Ek stap na buite met 'n sakkie blonde haartjies, gebroke, verward...

Ek roep na my God , my God, ek dors na my God, soos 'n lam sonder water wil ek tot U nader, om by U te wees, om by U te wees, om by U te wees...

1 comment:

  1. Ai Rhonel. Ek is so jammer dat dit met julle moes gebeur. Ons bid steeds saam met julle vir volkome herstel.

    ReplyDelete