Die groot verlange na Juneldè laat my soos 'n huigelaar voel, die hartseer so aanklag op my geloof. Want sy leef! En ek glo! Ek vertrou! Maar tog het ek 20 weke laas met my kind 'n gesprek gevoer, saam haar "coffee-shop-crawling" gedoen, teepartytjies in die bad gehad, op die bed gelê en Storieman luister en boekies deurblaai, gelag vir haar skerp sin vir humor en koddige gesiguitdrukkings...
Haar "laaste" woorde aan my was: " Mamma, my handjies is vuil, vee af seblief"...Sy het sulke vetterige boerewors hande na my uitgesteek met 'n halfgeëte worsie in die een hand. "Eet eers klaar liefie" was my antwoord en sy het geglimlag en vinnig van die stoel afgewip maatjies toe. Dit is hierdie beeld van die worsie wat die groot raaisel tog in 'n mate opgelos het. Want ons wou so graag weet wat het dan gebeur?
Juneldè kon nie vuil handjies hanteer nie en het altyd 'n lappie gesoek of stoeltjie nader getrek om deeglik in die wasbak hande te was. Dan het sy boonop soos 'n regte dokter "hande geskrop", want Julius wat so gereeld in die teater werk het hierdie gebaar onwetend op ons na-apertjie afgestempel. Soms as Julius die swembad skoonmaak en ons drie kuier buite het sussa in die tuin gewerfskaf en handjies in die swembad afgespoel. Ons het dan vreeslik geraas en telkemaal was haar antwoord: "Nie swem nie mamma, mag nie, net handjies was"...
Dit is dus maklik om te vermoed dat sy daardie dag haar laaste stukkie worsie in haar mond gesit het en haar oog op die swembad geval het as 'n goeie opsie vir handjies was. Die watervlak was egter laer as gewoonlik en sy moes baie ver gebukkend oorbuig om by die water by te kom. Soms sien ek hoe sy dan balans verloor en koppie eerste induik. Sy moes so ontsettend groot geskrik het, dadelik verstik het in die worsie en water begin sluk het. Sy was moontlik totaal en al gedisoriënteer, met geen idee waar bo en onder is nie. In daardie oomblikke moes haar hartjie so bang gewees het, en as mamma sal ek altyd wonder hoe ek nie in daardie oomblik van angs my kind kon help nie. Hierdie gedagte is soos 'n nuwe vuishou in my seer hart...
Ek voel ook al vir 20 weke lank in 'n vakuum vasgevang, die hoofkarakter in 'n fliek waarin ek glad nie wil speel nie! Daar is nie 'n einde in sig nie en die "script" is baie onsamehangend geskryf. Ek voel uit beheer, oorgelewer, uitgelaat...Mag ek maar huil? Mag ek maar kwaad wees? Mag ek verlang?
En dan kry ek hierdie berusting dat alles geoorloof is, ek MAG! Maar ek mag ook dankbaar wees. Ek mag lag. Ek mag pret hê...Maar ek MOET ook nie te ver vooruit dink nie, elke dag opnuut celebrate, glo in SY voorsiening vir die toekoms, en ophou stilstaan by wat was. Is dit nie maar hoe ons almal altyd die lewe moet leef nie? Want wie weet werklik wat die toekoms inhou?
This is not the beginning, nor the end, it is life, and we are living it!
Poplap een Saterdag saam pappa by die werk, hoogs ontstoke want sy is dan "opgeskrop" en mag nie "oepereer" nie!
Ek bid uit die diepte van my hart, dat God sal waak oor jou bondeltjie vreugde, dat HY in die naam van Jesus haar sal genee
ReplyDeleteShe is protected in God's loving hands and we will be praying for her healing. :)
ReplyDelete