Nog so dag was "daai Vrydag", 18 Januarie 2013. Dit was 5 dae na "daardie dag" en die proses om Juneldè se liggaamstemperatuur stadig te lig was vanaf die oggend vroeg aan die gang. Ons het ons dag spandeer soos al die vorige dae, in 'n waas, al bewegende tussen PICU en ons familie en vriende by die Netcafè wat al heel week saam ons daar deurbring. Soos die dag verloop het, het Juneldè se saturasies begin val en was die personeel stil waaksaam rondom haar. Ek was pootuit, oorstuur, fisies, emosioneel en geestelik afgemat en teen die middag drie-uur vra ek my vriendin om my na my ouers se huis te neem dat ek kan rus. Ons gesels die 5 minute in die kar oppad huis toe, positief oor Juneldè se uitkoms en herstel, veral na dr Bartlett die Woensdag vir ons gesê het dat Juneldè se toestand stabiel is en haar kans vir oorlewing en herstel positief lyk.
Ek het dadelik by die huis aan die slaap geraak en is deur die wekker om halfvyf uit 'n diep slaap gewek. Deur die week het ek die gewoonte aangeleer om my selfoon by my hand te los, altyd gereed vir daardie oproep waarvoor mens onwetend wag. Ek slaak 'n sug van verligting, bly my stil foon het my 'n blaaskansie gegun.
Terug by die hospitaal loop ek met nuwe energie die PICU binne, ek was my hande en stap na Juneldè se bed. Wat ek sien dra my geskok tot langs haar bed. Juneldè is die eienaardigste grys-blou kleur, en daar borrel bloederige skuim uit haar neus. Die suster keer my voor: "Mommy, your baby is very sick, we called the doctor..." Ek spring om in my spore, radeloos reddeloos, met slegs een oorweldigende begeerte om by Julius uit te kom. Ek struikel-val by die trappe af tot na die "Loggie" tafel in die koffiewinkel. Almal lyk onbewus van die drama wat hom afspeel..."Waar is Julius" vra ek vir niemand spesifieks. "In die kapel" kom die antwoord van iewers. Ek vang my ouers se oë: "Juneldè is baie siek, sy lyk nie goed nie" is my woorde voor ek omdraai om dwalend deur die gange my weg na die Kapel te vind.
Ek stoot die deur oop, sien Julius raak en sê: "My liefie, dit gaan nie goed nie!". My man trek my af na die bankie tot langs hom. "Ek weet, ek was daar..." En hy sê die woorde wat nou nog soos 'n eggo in my gemoed weerklink: "My lief, ons gaan haar moet laat gaan...Ek het vir haar gesê ek is lief vir haar en sy kan maar na haar Here Jesus gaan, pappa en mamma sal ok wees..." Iets in my binneste knak en ek begin rukkend huil, welwetend dat hierdie die waarheid is. Saam sak ons op ons knieë en ons gee haar onvoorwaardelik terug aan haar Hemelse Vader. Deur daardie rou gebed het ons Hom gevra om na haar om te sien, en ook na ons, dat Sy wil sal geskied en dat Hy ons die krag, vrede en genade sal gee om aan te gaan.
Hande in mekaar gevleg loop ons saam na die PICU, onseker oor wat ons in die gesig gaan staar. Daar verneem ons dat in die tyd wat ons in die Kapel was, het Juneldè se hartjie gaan staan en het hulle weereens eindelose minute om haar lewe geveg. Sy het ARDS (Acute Respitory Distress Syndrome), en haar longetjies is so vol vog dat sy minimaal suurstof inneem. Die dr bevestig ons vermoede, sy is krities en gaan moontlik nie die nag oorleef nie. Ons word aanbeveel om die nag in die hospitaal te vertoef, om naby te wees indien ons haar moet groet...
Die hospitaal stel 'n leë saal tot ons en ons familie se beskikking. Soos dwalendes vertoef ons daar, ons lees uit die Woord, bid saam, bid alleen en uiteindelik val ons uitgeput in die vroeë oggendure op klein hospitaalbedjies aan die slaap. Ek is stukkend, maar saam met die eerste voëltjies se sang, begin my hart saamsing, en saam met die eerste strale van die son met dagbreek, skyn 'n lig op my donker angs. Juneldè leef!
Ek stuur 'n boodskap aan vriende en familie wat saam ons deur die nag gebid het. "Nie meer twyfel, nie meer vrae, God het ons doggie deur die nag gedra..." Juneldè se lewe op aarde is weereens gespaar en ek besluit daar en dan dat die Here haar nie tot hier sou bring om haar nie 'n oorvloedige lewe, met 'n toekoms en verwagting te gee nie.
Hierdie nag se spykers word die hakke waaraan ons opnuut ons geloof, hoop en liefde hang. En die klanke van ons lofliedere en aanbidding van vroeër die aand in die Kapel weergalm in my gemoed: "Ons Vader wat woon in die Hemel, geheilig is U naam, laat U ryk kom, U wil geskied, soos in die Hemel, so ook op die aarde..."
No comments:
Post a Comment