Tuiste is daardie plek waar jy geborge voel, geliefd voel, waar jy behoort. Die werklike gebou maak nie saak nie, dit is die mense daarbinne wat ‘n huis ‘n hart gee. As jy gelukkig is soos ek om in ‘n liefdevolle huisgesin gebore te kon word, is jou ouerhuis vir baie jare jou tuiste. Later as jy trou, saam met al die komiese aanpassings, word die woonstelletjie met oorgeërfde “antiques” jou woning. ‘n Plekkie vir net julle twee, waar jy nes skrop, eienaarskap neem, vrou word. En dan die hoogtepunt, ‘n klein mensie wat die tuiste ‘n warm hartklop gee…
Vir die afgelope paar maande het my tuiste sy hart verloor. My huis het weer ‘n koue gebou geword, sonder ons liefiekind se asem en lewe. Op Sondag 16 Junie, het ons huis weer volkome geword met ons poplap se tuiskoms. Na soveel kere se begeer, en vra, en smeek het ek die antwoord op ‘n diep gebed gekry. Juneldè is tuis…Niks is egter dieselfde nie; daar is ‘n nagsuster, hospitaalbed, Bioscrub, Saturasies en hartklop monitor, badstoel, spesiale kos. Milton vir sterilisasie en ‘n Mickey maagvoedingsbuis. Tog is die warm lyfie, asempie en hartjie – so klein en breekbaar – presies waar sy hoort, in ons huis en in haar pienk dogtertjie kamer. Ons begin spook en spartel om ‘n nuwe normaal te kry. Juneldè is ook ontwrig en vreemd. Tog erg om te sien dat hierdie huis waar sy vir ons tuiskom, vir haar nou totaal en al vreemd is. Vreemde klanke, reuke en nuwe hande wat haar hanteer. En daarom begin die spasma Sondag aand tienuur.
Weet jy wat is ‘n spasma, spastisiteit, dystonia, myoclonus? Toemaar, ek sou nooit kon raai dat hierdie “groot kliniese woorde”, my huis sou binnedring nie. Soos ‘n dief in die nag my vrede, kalmte en rus steel met sy hande van pyn wat op ons sussa rus. As die spasma haar beetkry, bewe en ruk die arms en bene, sy lyk soos ‘n oumensie gebukkend onder Parkinsons. En soos die seer net seerder word, skop die lyfie stywer en stywer. Sodat sy naderhand so ‘n boog na agter buig en stokstyf is. Daar is niks wat ‘n ouer kan doen, buiten om vir magtelose ure te luister na haar kermklankies afgewissel deur ‘n pyndeurdrenkte huil. So het ons die eerste 36 ure van ons meisiekind se tuiskoms spandeer. Magteloos. As sy net kan slaap?!
En uiteindelik Dinsdag-oggend seweuur, raak sy vir ‘n uur aan die slaap. Die spasma-dief het so stil soos hy gekom het, weer uit die huis gesluip…Ons dank die Here vir die warm lyfie, wat tussen ons op ons dubbelbed kan lê, terwyl ons ons hande om haar strek en verwonderend haar vashou. Sy is so mooi…
Die nuwe dag bring opnuut hoop en vrede. Juneldè is vreemd rustig. Die angs in ons huis gee skiet, en ons bepaal ons aandag om al die take rondom Juneldè getrou te verrig. Sy moet elke twee ure kos kry deur die Mickey, gereeld moet haar saturasies en hartklop asook temperatuur gemonitor word en telkens is daar nuwe medikasie om voor te berei en toe te dien . Ek en die dagverpleër is albei nodig om lakens te ruil wanneer sy naar word (die kos akkodeer nog nie lekker nie), en haar opnuut ‘n lekkerruik bad te gee. My ma ry deur van Johannesburg en kom gee ‘n hand by, ek is so dankbaar en gaan lê na twee slapelose nagte om vining weg te val in ‘n droomlose slaap. Die verpleër klop my wakker, Juneldè het onverklaarbaar blou begin word om haar lippe, en haar saturasies val met ‘n spoed. Haar ogies spring heen en weer en sy is die snaakste wit kleur. Ek besef dat ons dringend by die hospitaal moet uitkom, gryp die slap, grysblou lyfie wat rukkend gebroke asem haal en dan toenemend langer ophou. My ma spring agter die stuur en in spitsverkeer jaag ons na Unitas. Soos ‘n nare oomblik van bekende histerie, besef ek by die eerste robot dat Juneldè geensins meer asemhaal nie. Ek beveel my ma om so vining moontlik te jaag, selfs oor rooi robotte as dit moet. Toe ek afkyk is Juneldè nog blouer, selfs die yskoue handjies ‘n grys-blou kleur. Ek pas mond tot mond asemhaling toe terwyl ek my hand op haar hartjie hou, wat genadiglik steeds aanhou klop. My ma maak kontak met Julius wat by Unitas werk, en hy tref reëlings met ongevalle. Ons jaag deur Unitas se hekke, my man staan reg en hardloop die kar tegemoet. Hy gryp Juneldè se slap lyfie en hardloop met haar in ongevalle in…
Dit is die mees surrealistiese gevoel, dieselfde trauma span, dieselfde skok en spanning, dieselfde rooi kruis in die gang, so baie dieselfde aaklige emosies en angs as die 13de Januarie….Hoe is dit moontlik om weer hier te moet wees? Juneldè se saturasies is 26 (normaal is bo 90) en sy het ‘n hipoksiese toestand beleef, moontlik aangebring deur konvulsies. Haar bloedgas dui op te veel koolsuurgas en haar vlak asemhaling is abnormaal. Sy word geïnktubeer en behandel vir konvulsies wat steeds voortgaan…
Verstom daag dieselfde groepie hartsvriende by die hospitaal op. Gevolg deur my geliefde boeties, skoonsussies en pappa. En tenspyte van die ondenkbare waarheid dat Juneldè terug is in PICU Unitas, ervaar ek in ‘n piepklein wagkamertjie die sekuriteit van tuiskoms in my geliefdes se onvoorwaardelike vertroostende arms…
My trane van bleidskap net so omgesit in trane van hartseer. Jesus, ek vra dat U hierdie Engeltjie kindjie stuif vashou in U hande. Gaan asb saam met almal wat haar lief het, en neem die seer uit hul harte. Asb Jesus, genees hierdie kleine engeltjie kind!
ReplyDelete