In water word ons gevorm, uit water gebore, ons liggame bestaan uit 75% water, sonder water is ons niks. Water is voorwaar die bron van lewe op aarde…Die wonderlike verligting as jy ‘n glas water drink na ‘n dringende dors, of op ‘n warm somersdag die heerlike lafenis as jy in ‘n koue swembad baljaar, onbeskryflik. Om nie te praat van daardie skuimbad na ‘n lang dag, of die kalmerende effek van ‘n stort se warm waterstrome op jou rug.
Tog moet ons water respekteer, want so nodig as wat ons water het, so nodiger het ons suurstof. Wanneer jy dus mamma word, sien jy water in ‘n ander lig, en as daardie ratse woelwater begin beweeg, word badkamer deure gesluit, waterbakke hoërop geskuif, en ‘n kontrakteur ingeroep om ‘n seil op die swembad te sit. In 2010 het ‘n skoolvriendin se 16 maande oue dogtertjie tragies in haar ouerhuis se swembad verdrink. Dit was ‘n fratsongeluk, die kleinding het ‘n opening in die swembadseil gevind en haarself ingewriemel. Sy kon goed swem, maar kon onmoontlik haarself help daardie dag. Juneldè was 2 maande en een week oud, geskok het ek my pienk bondeltjie vasgeklou en gebid vir die gesin…
En tog het die ondenkbare ook met ons gebeur en het Juneldè amper in ons swembad verdrink. Ek kan steeds nie glo dat dit werklik gebeur het nie, ek was so seker dat ons voorsorg maatreëls genoegsaam was; vlerkies, swembadseil, volwasse en ouer toesig, asook ‘n klein dogtertjie wat kon swem…
Ek spook al amper 6 maande met soveel vrae, hoe kon ek hierdie ongeluk verhoed het? En dan besef ek, dit word ‘n ongeluk genoem met ‘n rede…Daardie sameloop van omstandighede wat gelei het tot ‘n gebeurtenis wat geen party betrokke nie in ‘n oogwink sou wou omkeer indien enigsins moontlik nie.
Ek wens hierdie ervaring vir geen ouer toe nie, en nog meer vir geen onskuldige peutertjie. Dus wil ek tog ‘n paar goed uitlig en aanraai, sodat ouers en kinders nie ‘n wangeplaaste gerustheid rondom water sal hê nie. Ouer toesig is uiteraard nie onderhandelbaar nie, maar daardie volwassene moet langs die swembad sit, met geen gebeure of gesprekke wat kan aandag aftrek van die swemmende kinders nie, beter nog, swem saam…As veiligheidsmaatreël is dit nie ‘n kwessie van die een of die ander nie, maar eerder een of meer, maw. ‘n soliede swembadseil, plus ‘n heining om die swembad met ‘n outomatiese sluit hekkie. Laastens is daar ook op die mark ‘n alarm toestel wat die watervlak dophou en sal afgaan indien die watervlak styg wanneer daar niemand in die swembad behoort te wees nie. Kinders moet ook geleer word om te swem, maar veel eerder om hulself te kan help in ‘n skok situasie, juis wanneer hulle nie bedoel het om te swem nie, maar eerder in water inval.
Kyk ook in en om jou huis, wateropvangbakke, diere waterbakke, toilette, poele water, hierdie is alles ‘n groot aanloklikheid vir ‘n kleinding, maar net so groot gevaar. Maak badtyd ook eerder kuier-tyd en moet nooit ‘n kleintjie alleen in die bad los nie, nie eers vir ‘n kort rukkie nie.
En tog is die jammer moontlikheid steeds daar dat ‘n ongeluk kan gebeur, maak dus seker dat albei ouers en oppassers CPR ken en kan toepas, kry noodnommers vir jou area en sit dit op by telefone, veral ambulans dienste. Maak seker dat mediese fonds inligting by die huis op ‘n sigbare plek opgeplak word, dus kry ‘n goeie mediese fonds! Lees die fynskrif en verstaan jou fonds-plan. Indien jou kind ‘n amper verdrinking ongeluk gehad het, dring aan om by dr. Bartlett in Garden City uit te kom, jy is geregtig daarop.
Meer as enigiets, geniet water, geniet water saam met jou kinders…Water is ‘n geskenk van ons groot God, waarin Hy in Sy volmaakte plan iets van Sy lewe en die bron van lewe met die mensdom wou deel. Tog wees bewus daarvan dat juis hierdie water in ‘n oogwink jou lewe onherroepbaar kan verander. Ek wens vir geeneen dit toe om soos ek nou, na 6 lange maande, steeds lang ‘n liefdevolle, perfekte maar beseerde 3 jarige se ICU bedjie te waak nie. Weet net, dit gebeur in ‘n oogwink…
Stem met jou heeltemal saam. Daar kan nie genoeg gese oor water - plesier of gevare.
ReplyDeleteAi vrou, jou blog raak my hart so aan. Ek het 'n seuntjie dieselfde ouderdom as jou meisiekind. Ek is vriende met Hennie en Corine, so ek voel daar is 'n 'link'. Ek dink aan julle en bid vir julle. Mag julle gou weer daai meisiekind huis toe neem xxx
ReplyDelete