Blog Archive

Friday, 5 July 2013

Pienk verwondering

Juneldè het Maandag uit Unitas huis toe gekom, met pienk en groen kleertjies aan, te pragtig...Ons het haar versigtig in die karstoeltjie gelaai en heelpad huis toe het ek gebid dat dit hierdie keer permanent sal wees.  In haar pienk dogtertjie kamer het ons haar weer tuisgemaak, en my hart het van vreugde oorgeloop.  Die Here het ons gebede waarlik gehoor en die wonderwerke het hierdie week ingestroom... 

In verwondering deel ek met julle dat Juneldè nou al vir twee en 'n half weke geen spasma het nie! Sy slaap elke nag deur en haar magie doen baie goed op die nuwe puree dieet.  Met pienk lepeltjies laat ons haar telkens proe, en die bekendheid van daai mondjie wat so gretig hap en sluk aan vrugte puree, maar die groente dadelik uitspoeg, is salwend vir my hart.  My dierbare poppie se glimlaggies wat nou begin deurskemer is so pragtig om te aanskou, en as sy my so stip in die oë kyk, dan weet ek sy weet, ek is haar mamma...

Tussen al die aanpassings van ons pienk lyfie by die huis, het ons ook 'n golfdag Woensdag aangebied ten bate van Juneldè se trust.  En in verwondering het ek gestaar na al ons hartsmense trots in pienk, wat soveel tyd en energie opoffer vir ons en ons liefiekind.  Die dag was nie maklik vir ons as ouers nie, maar vooorwaar die Here het voorsien, en 'n heerlike pretdag verskaf ter ere aan 'n lewenslustige dogtertjie.  Harte is aangeraak en 'n groot finansiële las is van ons skouers af.  En die kostelikheid van elke man-MAN wat telkens 'n pienk sakkie ontvang, prysloos om te aanskou!


No comments:

Post a Comment