Blog Archive

Saturday 13 July 2013

Om 'n oester te wees...

Die afgelope twee weke wou ek soos ‘n oester wees.  Myself toeskulp in ons huis waar Juneldè uiteindelik veilig tuis is…Ek wou ons twee van die buitewêreld uitsluit, en ‘n beskutte, beskermde omgewing skep waar sy vir my perfek is, waar ek onvoorwaardelik afgeskerm is van die realiteit dat sy nou anders is.
Want vir my is sy pragtig, net soos sy is.  Elke dag sien ek vordering, soveel verbetering, sy is ons Juneldè, wat die wêreld met wakker ogies bekyk.  Wat so hartseer kan huil om opgetel te word, en haar koppie dan so styf teen jou skouer vas druk.  Ek besluit om nie na haar gebreke te kyk nie, in volle geloof dat dit net tydelik is…Dit is so dat sy nie kan sit nie, loop nie, praat nie. Dat haar koppie vir haar baie swaar is, en haar nekkie nie besef dat dit sy werk is om hierdie swaar kop bo te hou nie.  Sy kan nie eet nie, en ons gee al haar kos en drinkgoed deur ‘n maagbuisie.  Daarom gee haar magie moeilikheid, dan is sy hardlywig, dan is sy naar, dan sukkel sy met gasserigheid en refluks.  Maar in ons oester skulp kan ons al hierdie dinge afmaak as onbelangrik.  Want sy kry nie meer spasma nie, haar handjies kruis vanself oor haar borsie, sy ontdek elke dag nuwe emosies en sy herken haar geliefdes se stemme.  Dit is vir haar net so salwend soos vir ons om by die huis te wees.
Maar die lewe laat mens nie toe om in isolasie te leef nie.  Telkens kom daar sand in ons oester skulp in.  Die seuntjie by die fisioterapeut wat vir sy pappa vra:  “Wat is fout met daai dogtertjie?”.  Of die vreemdelinge wat ons aanstaar as ons haar versigtig uit die kar tel by die arbeidsterapeut.  Haar niggie en nefie wat kom kuier, en die absolute kontras tussen wat was en wat is.  Want Juneldè lê op die bank, verlam en magteloos om te kan saamspeel…Elke aand wat die klokkie halfsewe lui en ‘n suster opdaag om na ons dogtertjie te kyk sodat ons gerus kan gaan slaap, is soos klein stukkies sandjies wat aan my oester lyf krap.
Maar dan is daar ook die egpaar wat ons ontmoet, met hulle pragtige 3 jarige engelkind.  Sy lag met ‘n oopbekkie, en haar onaangeraakte gees verlig haar menswees.  Sy het Microcephaly, en is ‘n dierbare klein kompakte mense.  ‘n Bos krulhare omraam haar gesig, en tussen haar en haar ouers, is die liefde tasbaar inspirerend.  Ek leer ook ‘n ander gesin ken, man en vrou met hulle vier woelwater kinders.  Drie van hulle is in die wêreld se oë afgemaak as gestremd en abnormaal…Maar met hulle ouers se geloof en hoop in hulle potensiaal, floreer hulle in hul andersheid.  Met deursettingsvermoë en opoffering leef hierdie gesin daagliks die bewys dat niks onmoontlik is nie.,,
So besef ek dat as jy bereid is om jou eie paradigmas, menslike drome en perspektiewe te laat gaan, die sandjies in jou oester slegs die roumateriaal word, om dan mettertyd jou skulp oop te breek sodat  jy ‘n pragtige volmaakte pêrel as geskenk vir die wêreld kan gee…

Vandag het ons ons veilige skulp verlaat om die winkels aan te durf, en die pêrel van Juneldè se herstel tot nou, met een en elk te deel...

No comments:

Post a Comment