Blog Archive

Tuesday 29 October 2013

Die wonderwerk van eet, 'n lang glyplank en helder mure...


Van die mens se eerste instinkte, wat by ‘n pasgebore baba dadelik sigbaar is, is die vermoë om te kan eet.  Om kos met die mond in te neem, te sluk en voedingswaarde uit daardie kos uit te kry wat die liggaam instand en sterk hou asook instaatstel om te groei.  Dan is daar ‘n mamma se moedersinstink wat hierdie baba-behoefte  raaksien en die wonderlike gevoel as mamma baba dan kos gee.  Dis so reg, so binne die skeppingsplan…
Dit was vir my dus baie moeilik om vir drie weke lank na 13 Januarie te sien hoe Juneldè haar kos deur ‘n pypie in die neus na die maag inneem.  Maar die gemoedsrus het daarin gelê dat wanneer sy haar bewussyn herwin, sy weer daardie pragtige pruilmondjie sal gebruik om te suig, kou, eet en sluk…Om dan  gekonfronteer te word met ‘n mediese prosedure wat jou kind deur ‘n maagbuisie kos gee, is uiters moeilik.  Die geveg tussen die kop besef dat hierdie prosedure dit is wat Juneldè nodig het, en dat sy op geen ander manier kan voedsel inneem nie, kontrasteer teenoor die hart behoefte om ‘n mondjie te voer en te sien proe en sluk.  Maar woorde soos dysphagia word opgelees en nagevors en uiteindelik word ‘n maagbuis (gastric-tube) in haar magie gesit.  Vir maande is dit al manier waarop ek my poppie kan voer, en is ek danbaar oor die mediese navorsing wat haar so kan help.
Daar was telkens tye wat die opgewondenheid groot was omdat Juneldè kossies begin eet , so min en so moeilik, maar tog daar.  En dan Junie maand die groot terugslag wat sy opnuut weer ‘n hipoksiese breinbesering opdoen, en hierna nie meer wil eet…
Ek voel dus of ek moet vra vir ‘n oomblik van “drum-roll” voor ek die volgende aankondiging maak.  Juneldè eet gemaklik, sluk onmiddelik en proe alles!  Sy het haar goeie en minder goeie dae maar sy eet gemiddeld elke ete en tussen-happie per mond…Hierdie is ‘n wonderbaarlike gebeurtenis, en ek slaan my hande en wese in dankbaarheid op na ons Vader.  Vir ons is gesê Juneldè sal nooit self kan asemhaal nie, en tog het die Here medici verkeerd bewys.  Die uitspraak daarna was dat sy nooit sal kan sluk, proe of eet nie en dat die erge refluks wat sy het, met periodieke braking en long aspirasie, deel van haar toekoms gaan wees wat ons net moet aanvaar.  Binne die afgelope twee weke het hierdie prognose by die deur uit gevlieg en is dit vir my as mamma ‘n nederige, wonderbaarlike, lofprysende voorreg om my meisiekind met die mond te kan kossies gee!  Ons volgende mylpaal is dan dat sy vloeistof per mond kan inneem, dus ‘n kleuter-bekertjie kan gebruik en dan oplaas ‘n glas.  Anders as wat mens sou verwag is dit juis hierdie dun vloeistof wat baie maklik in die verkeerde pyp afgly reguit longe toe.  Eers dan sal ons van die maagbuisie kan ontslae raak.  Maar ek het geen rede om nie in vaste geloof, hoop en vertroue te weet dat ook dit vir ons in die toekoms beskore gaan wees, want Hy is getrou!
Wat ons tuisprogram aanbetref, sjoe ons werk hard!  Ons het ‘n druk program wat baie herhaal word deur die dag sodat die brein deur die proses van intensiteit, gereeldheid en tydsduur (intensity, frequency and duration) nuwe breinpaadjies kan vorm.  Ek kan met trots sê dat ek dus nou, addisioneel tot my rolle van vrou, ma en tuisteskepper ook nou daagliks ‘n brein laat groei, wat ‘n voorreg.  Ek besef met verwondering hoe fantasties die Here se skepping is, en ek loof Hom vir elke neuron, aksis, breinmassa en elektries impuls se herstel. 
Deel van die program is om Juneldè se brein weer te leer dat die vier ledemate se hoofdoel is vir mobiliteit.  Ons sit haar op ‘n lang glyplank, plat op haar maag teen ‘n helling sodat selfs die geringste beweging haar laat vorentoe beweeg.  Sy kla maar lekker, nie te mal oor die sensasie nie, maar na twee weke se statiese lê op hierdie glyplank het sy skielik begin vorentoe beweeg, en het my gejuig en handeklap haar kla-huil ver oorskadu!
Verdere goeie nuus is dat haar ogies, wat twee weke terug net lig en skadu, swart en wit en buitelyn kon sien, nou helder kleure kan raaksien en waardeer, ‘n rooi penflitsie se lasar kollietjie volg, en haar verkyk aan die abstrakte, helde kunswerke wat ek teen haar muur opgesit het.  Ons het ook begin om helder papiertjies (sticky-notes) op haar swart en wit bord te plak en help haar om dit raak te sien en te probeer afhaal.  Ons begelei die handjie, maar keer op keer kry ek trane in my oë as ek sien hoe haar wysvingers uitkom en die papiertjie raak probeer vat.  Sy kry dit ook dan reg en hou vas aan daai blommetjies wat sy vang.
Die twee weke was wel tog nie sonder voorval nie, en laas week Donderdag het sussa so diep geslaap dat ons haar geensins kon wakker kry nie.  Na vier ure het sy nie ‘n lig- of pynrespons gehad nie en na ons haar nie eers tydens die swemterapie kon wakker kry nie, het ek angstig en paniekerig Unitas toe gejaag.  Reëlings is getref vir haar opname, maar tussen die rit vanaf Garsfontein tot Unitas het poplap besluit dat die wêreld nou skielik weer interessant klink en begin wakker word!  Ek was baie dankbaar hieroor, alhoewel my geloofwaardigheid effens in twyfel getrek word na ek die wawyd wakker kind by die Neuroloog indra, terwyl die dringende boodskap was dat sy amper in ‘n koma-staat is!  Nietemin, toe die lyfie besef sy is by die hospitaal het sy stokstyf geskop en baie angstig geword.  Dit is duidelik dat sy nog baie getraumatiseer is deur hierdie omgewing.  Die neuroloog het bloedtoetse aangevra en is van die opinie dat Juneldè se huidige medikasie dosisse te sterk vir haar begin raak.  Ons het dus ook nou met ‘n stadig detoks proses begin, wat pynlik moeilik is want ons liefielyfie kry erge onttrekkingsimptome.  Maar die nuus is so verblydend dat sy neurologies al soveel verbeter en verander het in bietjie meer as 3 maande dat haar medikasie al aangepas kan word.
Drie keer ‘n week swem sussa dus nog lekker, en water is die een plek waar ons weet  sy ons met haar pragtige glimlag gaan bederf.  As sy in die warm swembad water gesit word helder haar gesiggie op en staan die mamma-razzi reg vir foto’s.  Ook badtyd is ‘n vreugde want die mondjie lag en die ogies lag ook saam.  Ter wille van hierdie oomblikke van blye emosie op haar gesig, en die saligheid wat sy uitstraal, wens ek soms ek kan haar sommer heeldag net daar hou!
Ek gaan werklik my bes probeer om meer gereeld te skryf en dis so spesiaal dat daar soveel  belangstelling en aanmoediging is vir Juneldè se herstel.  As jy in gebed tot die Here nader, dra haar asseblief aan Hom op, in danksegging oor wat is en in geloof oor die wonderwerk wat kom.  Bid ook asseblief vir my en Julius se daaglikse geveg om die gees van swaarmoedigheid te verruil vir die kledingstuk van lofprysing.  Dis nie maklik nie en meer as nege maande se stres en trauma kry ons onder.  In Sy woord kry ons egter soveel aanmoediging en versterking asook deur geloofsvriende wat saam ons bid en vir ons instaan…





No comments:

Post a Comment