Blog Archive

Wednesday 27 November 2013

(Wimpy Wifi 1) Op hierdie reis...




Ek wil begin deur verskoning te vra dat ek so lanklaas geskryf het.  Die Gauteng storms het ook ons internet raakgeslaan.  Ons was oortuig (en hoopvol) dat dit die telefoon lyn is, maar heelaas na twee weke op Telkom wag is bevind dat die modem vervang moet word.  En jislaaik, het jy geweet hoe duur is hierdie outjies?  Ons is besig om pryse teen mekaar op te weeg en sal hopelik binnekort weer meer as selfoon toegang tot die kuberruim he.  Ek dreig dus elke dag om gou by Wimpy te stop en my blogs te laai, in die oggende kan ek al die Wimpy koffie en kaasburger proe, net om aan die einde van die dag weereens nie by die rooi W uit te kom nie.  As jy voel asof jou dae baie lank is, weet net dis omdat jy van my ure mahala gekry het, want ek het verseker nie 24 uur in my dag nie!  Hier dan ‘n blog wat ek op 13 November 2013 geskryf het…
Op hierdie reis…
Vandag is dit al 10 maande sedert ons reis begin het.  ‘n Tog wat ek verseker nie voorspel het of selfs wou meemaak nie.  Die Here is waarlik die enigste ware gids wat ons lewe vooruit bepaal.  Ek het soveel ewigheidswaarde lesse geleer tot nou, en alhoewel die berge soms te steil, die ruigtes te onherbergsaam en die dieptes soos ‘n moeras gelyk het, was die Here elke tree my rigtingwyser.  Ek is nie eers seker hoe ek dit tot hier gemaak het nie.  En hoe gaan ek staande bly tot die eindbestemming? 
Tog wil ek nie soos die Israeliete wees en tenspyte van deel wees van groot wonders en bewyse dat die Here my weë bepaal, steeds twyfel en bevrees wees oor die toekoms nie.  Die Here het my vanaand laat peins oor die lesse van ons reis…
Geloof in aksie: Ons God is nie een vir pleisters plak en wegskram van seer nie.  Hy is ‘n God van genesing.  ‘n Swembad is gebruik om Juneldè amper van ons weg te ruk, voor haar tyd.  My en Julius se onmiddelik behoefte was om hierdie swembad toe te gooi, om nie weer na hom hoef te kyk en herinner te word aan die beelde van daardie dag nie.  Maar die Here se wil het anders bepaal.  Hy gebruik water as deel van Juneldè se genesingsreis.  By die swemterapie ervaar sy ‘n ontspanne lyfie en kan ek sien hoe sy dit geniet.  In die water is haar glimlaggies meer teenwoordig en kan ek my verkyk aan al die emosies op haar gesig.  Stelselmatig kom ons agter dat die drie keer per week se swemterapie nie meer genoeg is nie en dat sy werklik elke dag tyd in die water moet spandeer.  Haar terapeut stel voor dat sy vir my en Julius leer om van die eenvoudige terapie self te doen, en ons besef ons sal ons swembad weer moet volmaak…Die eerste keer wat Julius met Juneldè in die water is is emosioneel uitdagend, dit is ook die eerste keer na daardie dag wat hy en sy poplap weer in ‘n swembad is en telkemaal as haar lyfie verslap en onstpan word die sweer van opgekropte emosies en seer in my man se hart oopgekrap.  Dis ‘n eina dag maar ook ‘n gesondword oomblik.  Die wonde kan uiteindelik nou genees.  Ons swembad is in die proses om weer volgemaak te word en ons is besig om die verhitting te herstel, binnekort sal ons gereeld met Juneldè hier tyd spandeer.  Die Here dryf mens telkemaal na die donkerste gedeeltes van jou siel sodat Sy lig weer daarop kan skyn.
Onvoorwaardelike liefde: Om los te maak van die menslike aard om te vergelyk en meet is nie maklik nie.  Die Here leer ons op hierdie reis om onvoorwaardelik lief te hê.  Ons as ouers van ‘n gesonde kind het nie besef  hoe veel ons ons liefiekind teen ander opmeet nie.  Hoeveel ons vergelyk en hoe ons trots gefokus is op dit wat ons sy kan doen wat haar maats nie kan doen nie.  En toe word sy in ‘n oogwink uit die norm uitgeruk en is haar pad uniek en ontwikkeling sonder ‘n handleiding of maatstaf.  Ek en Julius word daagliks met die realiteit gekonfronteer van dit wat sy nie meer kan doen nie, en ons kan so maklik vasgevang raak in die dryf om weer hierdie dinge te sien en beleef.  Maar die reis is eerder een van liefde, om haar onvoorwaardelik lief te hê, te omarm, te koester en haar te oortuig dat wie en wat sy is vir ons meer as genoeg is.  Ons is trots op haar!
Rigtingwysers: Die enigste rigtingwysers op ons pad is die Here, Sy woord, Jesus en die kruis asook die Heilige gees.  As een van hierdie elemente vervaag verloor ons ons rigting.  Dan is die ware noord verduister en ons bestemming onseker.  Op hierdie dae is die vrae baie en die hartseer intens.  Steek vrees sy kop uit en negatiwiteit kry ‘n plek in ons wese.  Slegs deur terug te draai na Hom, en tyd saam ons God te spandeer laat die mis op ons pad verdwyn .  Soveel maal is my gebed:  “Here ek is lief vir U, help my waar ek nog ongelowig is”.
Eindbestemming:  Bo alles het ek geleer dat die reis so belangrik is soos die eindbestemming.  Ons kies om elke dag te glo dat Juneldè volkome gaan genees.  Hierdie geloof en hoop is geanker in duidelike beloftes wat die Here ons gegee het.  Vir ons op ons pad sou dit ongelowig wees om nie hieraan vas te hou nie.  Dis slegs deur ‘n intieme verhouding met Hom wat die Heilige Gees jou die vrede gee om teen die wêreldse stroom van prognoses te beur en vas te staan in geloof en hoop en liefde.  Maar al wat ons het is vandag, en vandag is so belangrik soos die wonderwerk aan die einde…


No comments:

Post a Comment