Blog Archive

Monday 9 December 2013

Hoe gaan dit met Juneldè?

Ek onthou nog so goed een dag wat ek Juneldè by die skooltjie gaan kry het en haar vra wat  hulle by die skool gedoen het.  “Ons het liedjies gesing, mamma” was die antwoord…”En hoe gaan die liedjies?” vra ek.  “Goed  dankie mamma”, kom die bekkige antwoord.
Ons het vele sulke oomblikke gehad en die klein lyfie kon omtrent met koddighede vorendag kom.  Deur na die lewe deur haar oë te kyk was ‘n fees, ‘n unieke ervaring.  Dis hoeka die Vrydag voor die ongeluk wat ons in die motorhuis stop en ek sien die mondjie eet te lekker.  Maar ek weet ook ek het geen peuselhappie uitgedeel nie.  “Wat eet jy my liefie?” vra ek.  “’n ‘goggo’ mamma” antwoord sy en beduie na haar neus.  “Ag nee my liefie, siessa!”  berispe ek.  Sy kyk vir my met daardie groot oë en sit haar hand op my arm: “Toemaar mamma, Juneldè s’n is lekker.”
En dan is daar die dag wat sy haar ouma op die Vrystaatse vlaktes in die midde van hoogsomer laat rondloop opsoek na diere.  “Ag nee my skat, hier is Boggerol!” is ouma se uitspraak na ‘n ruk.  “Waar is die Boggerol?!” Kom Juneldè se opgewonde gretige antwoord.  Uiteindelik kry hulle iets!  Boggerol het sommer gou ‘n woord in haar woordeskat geword en toe ons eendag vra hoe lyk ‘n Boggerol kom die antwoord.  “Hy is pienk!”
En dan die vreugde van elke oggend wakker word met haar “Môre, Môre klassie” wanneer sy op ons bed opspring.  So oulik by haar juffrou afgekyk!
Dis hierdie oomblikke wat vassteek en die vraag; “Hoe gaan dit met Juneldè?”  soms moeilik maak.  Want die antwoord is eenvoudig, dit gaan goed met haar.  Baie goed!  As ons nie terugdink verder as 13 Januarie nie en besef hoe ver sy reeds gekom het, is daar slegs een woord wat uitstaan: Genade.  Wat ons het is net genade…Genade onbeskryflik groot het Hy aan ons bewys.
Juneldè het ‘n baie sterk persoonlikheid en kan regtig mens baie vinnig om haar vingers draai.  Sonder dat jy ooit mooi besef gee mens vir sussa net wat sy wil hê.  Jongie, sy weet hoe om te hoe…Dit was veral hierdie eienskappe wat ek so oneindig gemis het veral in die begin maande na die ongeluk wat sy ‘n lappop lyfie met glasige ogies gehad het.  Dit het my prinses baie lank gevat om uit haar diepe slaap te ontwaak.  Maar nou die dag besef ek, die groot Koning het haar onder ons neus aangeraak en wakker gemaak.  Vir haar was dit nie ‘n oombliklike wakker skrik nie, maar ‘n stadige proses.  Nou is sy wakker…Sy is steeds beperk in haar mobiliteit en spraak.  Haar ogies sien pragtig maar fokus nie altyd presies op gesigte nie.  Maar jongie, niks van hierdie beperkinge stop haar om weer talle grootmense rondom haar te lekker te laat spring nie!
Saam met die bewus wees van haar omgewing kom ook emosionele einas en uitdagings.  Sy is so oneindig gefrustreerd.  Bewus van haar beperkinge, wil graag buite speel, en rondhardloop en praat en sing en dans.  Vir ‘n mensie wat soveel energie het en lewenslus moet die tronk van immobiliteit baie erg wees!  Dit breek ‘n mamma-hart.  Ek kan net hoop dat die frustrasie ‘n voertuig van motivering word, wat haar herstel verspoedig.  Ag, hoe HOOP ek die breintjie leer om haar lyfie te laat beweeg!  Die enigste manier om aan haar frustrasie uitdrukking te gee is ‘n stywe lyfie, die spasmas het nou ‘n duidelike oorsprong en sy kan vir ure en dae aaneen huil…
In die aande wat dit my beurt is vir nagwaak kan ek my verkyk aan Juneldè.  Haar lyfie rek en strek al self, sy lag soms hardop in haar slaap, en sodra mens die komberse lig om haar posisie te verander begin sy al self te beweeg om te “help”.  Soms hoor jy hoe sy skarrel en dan verander sy sommer self haar posisie, en die hoogtepunt is as haar bene die komberse so skop skop afwriemel.  So bekend en normaal, druppels in ons emmer van hoop.

Ons is ook dan nou opreg dankbaar dat sy so nou en dan lekker kan rol.  Van haar rug na haar sy, of van die sy op haar maag, of van haar sy na haar rug.  As mens met haar op jou skoot sit en die lyfie vooroor buig is sy mal daaroor indien haar ruggie gevryf word.  En wanneer sy besluit om haar kop op te tel word haar vuis-hande en onderarms soms ingespan om die koppie te help lig.  Te kostelik.

Sy eet ook lekker…Op haar termes natuurlik en te oulik hoe sy nou duidelike smaakvoorkeure begin wys.  Sommige kos is sleg en word summier uitgespoeg!  Ouma moet omtrent nou kopkrap om die streng organiese dieet met sy geen suiker of sout en sommer baie groen groentes aptytlik te maak.  Sommige dae word die pruilbekkie summier op ‘n knop getrek en kan geen lepel verby die lippe-hek beweeg nie.  Dan einde raad word die maag-pypie maar weer ingespan.  Op die ingewing van die oomblik het ek ook laas week vir haar ‘n bottel gaan koop om te kyk of sy sal suig en sluk.  Met vele waagmoed en ontkenning van die risikos druk ek daai bottel in haar mond en sy suig en sluk dat die biesies bewe.  Wat ‘n vreugde!  Die proses is maar nog langsaam maar deur die loop van die dag maak sy nou ‘n 80ml bottel leeg.  Wat ‘n seën en groot bydrae tot ons emmer waarin ons die druppels hoop en wonderwerke opvang om op moeilike dae aan vas te hou…

Dus kan ek met ‘n breë glimlag vir jou antwoord, dit gaan baie baie goed met Juneldè.  Steeds is ons smeekbede vir volkome herstel…Om haar beentjies weer vinnig te sien hardloop.  Haar op haar tone te sien dans en in die rondte te sien draai met ‘n feetjie-rok.  Om weer mammie en pappa uit haar mond te hoor en haar skerp humorsin en lewensuitkyk te geniet.  Meer as dit is ons gebed dat die pad vorentoe nie meer lank sal wees nie.  Maar vir nou kan ek opreg sê:  “I would not have chosen this journey, but I sure do love my Tourguide…”


No comments:

Post a Comment