Blog Archive

Sunday 22 December 2013

Happy Birthday to you...


Soos ek is Juneldè ook ‘n Desember baba.  As kind het ek altyd met my ma baklei omdat ek en my boetie altwee in Desember verjaar en ander maatjies se verjaarsdae is op lekkerder tye.  Later toe ek beter verstaan dat mens nie jou kinders bestel nie, maar nog nie mooi besef dat beplan ook soms nie eers in jou hande is nie, het ek grootbek aangekondig dat ek dit nooit aan my kind sal doen nie!  En toe is my eersteling mooitjies ook ‘n Twaalfde maand baba…
Laasjaar in September rond vra Juneldè vir my hoekom al die maatjies verjaar maar sy nie? Mooi verduidelik ek vir haar dat haar verjaarsdag nog kom.  ‘n Hele ruk later kom vertel sy vir my erg gespanne dat mamma asseblief nou moet cupcakes en sweeties skool toe stuur sodat sy ook kan verjaar!  Hoogs ontsteld want dit is haar mamma se traagheid wat haar “happy birthday”  soos sy daarna verwys het, terughou! 
Hierdie jaar het ons haar 4de verjaarsdag herdenk op die 7de Desember.  Terwyl sy vir ses lange maande in verskeie hospitale was het ons gereeld beplan aan die fees wat ons gaan hou as sy tuiskom, met die vaste oortuiging dat sy volkome genees gaan wees.  Sy is alreeds 5 maande tuis en steeds het ons nie hierdie fees gehou nie, bloot omdat ons so vasgevang was in die mediese uitdagings rondom Juneldè se versorging…Maar ons kon nie 2013 laat verbygaan sonder om fees te hou nie, en het Juneldè se verjaarsdag as die gulde geleentheid gesien om haar lewe te VIER!
Die groot beplanning het begin en met baie hulp van ‘n Partytjiebeplanner (Linki Abrie van Koliki) het ons die dag aanmekaar gesit.  Met ‘n Dans-tema (Ballet), baie pienk, asook swart en wit polka dots…Juneldè is mal oor dans, en ek het beplan dat sy die afgelope jaar Balletklassie sou neem.  Ek kon al sien hoe die fyn lyfietjie wat altyd op haar tone loop en hardloop, die kuns van die Tutu bemeester…Vir my was die tema van Ballet weereens ‘n simbool van dit waarop ons hoop, maar nog nie kan sien nie –  ‘n poppie wat weer kan dans, in die rondte draai en oopmond lag.








Ons het ook saam as man en vrou, en mamma en pappa, ‘n kers van lewe aangesteek.  Simboliek van Geloof, Hoop en Liefde en die vertroue wat ons in ons Hemelse Vader stel.  As geliefdes het ons weereens saamgebid en gevra na die begeertes van ons harte.
 
Juneldè het soos ‘n prentjie gelyk in ‘n swart en wit polka dot rokkie en tot op die grond pienk tutu, afgerond met Balletskoentjies…Sy het haar in al die aandag gebaai en die mooiste persentjies gekry.  Dit was ‘n dag van vreugde, ‘n fees van lewe, ‘n gebaar van oorgawe, en ‘n keuse om positief te wees, te vertrou, en die genade tot nou en die wonderwerke tot vandag raak te sien, dankbaar voor te wees en Sy naam Groot te maak!




1 comment:

  1. Liewe Rhonel
    My dogtertjie is net 'n jaar ouer as Juneldé. Alida het op 5 Desember 2012 'n hartstilstand en suurstoftekort gehad onder narkose. Ons leef ook in 'n nuwe fase van ons lewens wat ons ook maar net deur die krag van Bo tot hier kon volhou.
    My ma, ook Alida, volg jou blog met elke inskrywing. Ons gesels dan oor Juneldé en die paaie wat die lewe met ons stap. Weet dat ons jou, jou man, julle hele familie en veral vir Juneldé opdra aan die Here in ons gedagtes en gebede.
    Groete, Kotie Nigrini

    ReplyDelete