Blog Archive

Wednesday 15 January 2014

Al die Eerstes...




Eendag was daar ‘n man wat baie lank aan ‘n baie spesiale funksie by sy huis gereël het.  Hy het al die spesiale mense in sy lewe genooi en baie tyd en energie aan die beplanning bestee.  Die aand van die funksie het aangebreek en als het volgens plan verloop.  Sy geliefdes was daar en almal het lekker en ontspanne gekuier.  Mettertyd begin die man oplet dat sy buurman (met wie se norms en gewoontes hy nie saamstem nie) deelneem aan die verrigtinge.  Sy buurman is onbeskof en raserig en die man besluit om hom die deur te wys.  Met heelwat slag en stoot verwyder hy sy buurman en alles verloop weereens presies soos hy beplan het.  Maar na ‘n ruk raak hy bewus van ‘n oproerigheid en hy besef dat sy buurman op ‘n manier weer deel geword het van sy partytjie.  Deur die aand herhaal dieselfde situasie hom, en die man besluit om by die deur te sit, om sy buurman op heterdaad te betrap.  Hy weet nie hoe die man heeltyd inkom nie, en is gegrief oor die situasie.  Na ‘n ruk kyk hy rond en sien hoe almal heerlik kuier en besef dat hy besig is om uit te mis op al die mooi en lekker van die aand.  Hy besluit daar en dan dat alhoewel die onwelkome gas beslis nie die ideaal is nie, en hy dit andersins sou verkies het, hy eerder die pragtige geleentheid wil bywoon en geniet as om al sy tyd en energie te spandeer om sy buurman weg te hou…
Ek deel die verhaal omdat ons die afgelope maand en ‘n half deur heelwat “eerstes” na die ongeluk gegaan het.  Eerste verjaarsdag, eerste kersfees asook eerste jaarmerk…En tydens elke geleentheid was die gevolge van Juneldè se besering soos die onbeskofte, raserige buurman, ‘n  onwelkome gas in ons midde.  Ek het so hard probeer om positief te wees en te kies om elke spesiale gebeurtenis, wat so maklik totaal en al anders kon wees, te vier.  Maar kort-kort vang ek myself dat ek op Juneldè se seer spierspasma, gereelde braking en maagkrampe en gebrek aan deelname fokus.  Hierdie onwelkome gaste het die feestelikhede vir my versuur…
Sondag die 12de Januarie 2014 het aangebreek, en ons is saam as gesin kerk toe.  My gemoed was stormagtig na ‘n moeilike Desember waar ek en Julius sonder hulp vir die eerste keer na die ongeluk, alleen na Juneldè omgesien het.  Dit was fisies stremmend en emosioneel uitputtend.  En daar praat  die Here met ‘n besonderse boodskap.  Hy herinner ons aan Jesaja 43: 18-21:  Forget the former things; do not dwell on the past. See, I am doing a new thing! Now it springs up; do you not perceive it? I am making a way in…” 
En so lig ons genadige Here my uit die dieptes van frustrasie en desperaatheid.  Ek gaan sit en onthou van die kinderliedjie: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een, en jy sal verbaas wees oor wat God jou leen….”
En met ‘n dankbare hart druk ek my liefielyfie vas, en beleef die seën van my kind se warmte en asem.  Ek besef dat sy hierdie jaar groot geword het, en nou werklik ‘n dogtertjie is en nie meer my baba.  Haar lyfie is lank en haar “baby fat” is weg.  Opsigself laat dit my in diepe verwondering, want dit is algemeen dat kinders met breinbeserings se groei stop of beperk word. Ek besef ook dat sy Junie 2013 laas ‘n groot epileptiese aanval gehad het, en dat haar gesondheid sedertdien ook besonders goed is.  Sy het geen koorsaanvalle, of gewone kinderkwale al gehad nie.  En ons was ook ses maande laas in ongevalle, uit nood gebore en getraumatiseer en diep geskok.  Haar linkerheup, alhoewel steeds nie in posisie met die regterkant, het ook wonderbaarlik nie verder uit pootjie uit geklim nie.  Een aand lê sy met haar bene in die lug en ek kielie haar linkervoet, groot was die vreugde toe sy willekeurig haar been optel en na links wegskuif en weer neersit!  Haar arms beweeg ook nou heelwat en ook meer en meer willekeurig, met die regterhand se duim en wysvinger wat gereeld voorwerpe vasvang…Wanneer ons ook ons poppie op haar maag laat lê druk sy met haar arms en bene in ‘n opsit posisie, en hou haar nek regop en draai die koppie van links na regs.  Verder kyk ek met groot genot en verwondering na haar gesiggie wat meer en meer begin “praat”, soveel meer uitdrukkings!  Hoewel daar nog tussenposes en dae van die “poker” gesig is, word die ander dae met bederfgesiggies soveel meer. 
En dan is daar swemterapie, waar ons sussa in verskeie posisies haar nek vir langer rukke regop hou en die kontraksie wat haar na agter dwing, probeer teenstaan…Verder eet ons liefiekind al hoe beter, vinniger en sonder verstik of opbring voorvalle.  En ja, sy het die week 20ml uit ‘n glasie gedrink! Gehoes en proes, maar gedrink en gesluk!
Die Here is voorwaar groot, goed en genadig.  En ek vra hom om my aan te hou help om nie op die “onwelkome gas” te fokus nie, maar elke dag as ‘n nuwe geleentheid te geniet.  ‘n Geleentheid om nuwe herinneringe te bou, om daaglikse wonderwerke en seën te beleef, en in verwagting en afwagting te leef op al die “eerstes” wat nog kom!

 

Tannie Marlene blaas borrels en ek verkyk my aan haar....





Eerste keer sit ek langs die swembad met my kop omhoog!


Kyk hoe lê ek op my maag vir die eerste keer in die swembad en hou my koppie op!

Eerste keer wat ek so sit en nek regop hou in die swembad

Liefde en genade lyk so...

Eerste keer wat ek so hangende aan oupa se arm aan die slaap raak

Eerste keer wat sussa so mooi en stabiel op haar polysterene stoel sit...

Eerste Botox vir die jaar, ons gebed is ook die laaste...

Botox op die 13de Januarie 2014,  eerste keer wat sy deur die hele hospitaalbesoek slaap!

Lekker ry sy rond in die geel gevaar....

Eerste keer wat ons poppie weer in haar gunsteling tjor ry, en haar niggie Benke stoot haar rond (oom Johan help sussa regop bly, en dit was baie warm daai dag)

Eerste keer wat Juneldè en haar niggie Benke in sussa se geel tjor speel, sussa kry 'n groot soen!



No comments:

Post a Comment