Blog Archive

Friday 21 February 2014

Die wonderwerk van keuse....


Juneldè moes nou al vir meer as ‘n jaar verlief neem daarmee dat almal vir haar besluite neem.  Sy is ‘n lyfie wat versorg word, ‘n mensie met geen keuse of opinie.  Die feit dat sy so beperk is in haar mobiliteit en spraak, en so min maniere het om haarself te laat geld, het gemaak dat daar gereeld vir ons gevra word wat sy dan nou verstaan, begryp, en inneem van haar omgewing.  Is sy dan nou kognitief bewus en wat van haar intellek.  As mamma het ek van die begin af intiutief geweet dat sy steeds slim is, weet wat aangaan en kan onderhandel en manipuleer.  Ek kyk in haar oë en ek WEET dit net…
Ek het aangehou om met haar te praat soos met ‘n 4 jarige poppelop.  Ek het haar emosies geverbaliseer en begin om te waak oor wat daar rondom haar gesels en bespreek word.  En in die oortreffende trap gee ons vir haar erkenning en druk ons ons trots en liefde en aanvaarding vir haar uit.
Die jaar het afgeskop met ‘n tawwe program vir ons en sussa.  Maandae is dit spraakterapie en swemterapie.  Dinsdae is dit Fisioterapie.  Woensdae Arbeidsterapie en Swemterapie.  Donderdae Fisioterapie en Swemterapie.  En Vrydae sluit ons af met Braingym/Babagym van Melodie de Jager.
Saam met die terapie kom daar toe ‘n deurbraak van genade.  Die spraakterapeut merk op dat Juneldè beheer het oor haar oogknippe en binne een sessie leer sy vir haar om met ‘n lang toemaak oogknip Nee te sê en ‘n vinnige kort opmekaar oogknip Ja te sê.  En uiteindelik kan Juneldè ook haar Godgegewe reg van keuse uitoefen! 
Ons vra haar of sy musiek wil luister of opgetel wil word.  Of sy wil gaan stap of buite of binne wil wees.  Ons vra haar of haar ogies kan sien en sy sê Ja.  Ons toets haar kognisie met kleure en prent en voorwerp herkenning en sy antwoord in die kol.  Wow, dis ongelooflik hoe ‘n groot verskil hierdie vir ons en Juneldè maak.  En sommer skielik kommunikeer almal met haar asof sy begryp, verstaan en menswaardig is…Wat sy ook is!
Ons vang onsself ook dat ons haar meer geniet, vir haar lag, en haar erken in geselskap.  Ons gaan kerk toe laas Sondag en soos altyd sit ons heelvoor met sussa op haar gunsteling plek, pappa se skoot!  Sy is stroopsoet in die kerk, sy huil nie en word nie styf nie, bring nie op nie en lyk asof sy diep en deurdag na die preek luister.  Die pastoor praat oor God se almag, genade en vermoë om Jerigo se mure in elkeen se lewe af te breek, hy draai na die gemeente en vra:  “Glo jy dit?”.  Op daardie stadium het Julius vir sussa gekyk en gesien hoe sy antwoord:  “Ja, ja!”.  Hoe amazing is dit nie?
Ons is daagliks besig om die Wonder van Juneldè se herstel deur harde Werk te geniet.  Dus as mense vir my vra of ek in wonderwerke glo, sê ek heelhartig ja.  Ons leef een!  Hoekom die Here nie vir ons ‘n eensklapse, onmiddelike, kaboef en siedaar “ miracle” gee nie, weet ek nie. Maar ek vertrou ons soewereine God en begin begryp dat ek nooit op hierdie aarde gaan begryp nie.  Maar vir my is daar ook ‘n daaglikse keuse:  Gaan ek glo dat God is wie Hy sê Hy is, en dat Hy kan doen wat Hy sê Hy kan?  
En met ‘n dubbele oogknip en opkyk na die Hemel sê ek:  JA.

No comments:

Post a Comment