Blog Archive

Thursday 3 April 2014

Kwaad



Ek voel ek moet dalk hierdie skrywe eerstens met ‘n diep jammer begin…Dit is meer as ‘n maand dat ek laas op hierdie blog gesels het en ek kan baie verskonings noem, ja ons is besig, ja ons dae en weke is ‘n warboel van terapie en pille en dokters en hoogs en laags.  Maar die eintlike rede is my kwaad.  Ek is nou al vir meer as ‘n maand lank kwaad.  Enigeen wat skryf sal weet dat jy nie sommer oneerlik kan skryf sonder om uitgevang te word nie.  Dus het ek myself daarvan weerhou en gewag dat hierdie stomende, skreeuende, verontregte gevoel weggaan.
Heelaas, dit het nie.  Die ironie is dat ek ‘n sielkunde agtergrond het en tot en met Juneldè se ongeluk goed op dreef was met my praktyk as Lewensstylafrigter.  Ek het ‘n sertifikaat as Results Coach en Meesters graad in Persoonlike en Interpersoonlike leierskap (nog indrukwekkend nè!).  Maar die afgelope maand is my kennis en selfspraak en eie pogings om myself te coach baie ver verwyderd van die emosies waarmee ek worstel.  Ek kou tameletjie hiermee, voel hoe my masker-glimlag soms kraak op my gesig net om die front van okey wees voor te hou.
En dan word ek gedwing tot diep selfondersoek.  Wat is dan die wortel van hierdie kwaad?  Is dit dat ek fisies moeg en gedreineer is?  Is dit dat ek worstel met geloofsvrae en my persoonlike teologie nie strook met my belewenis van die afgelope amper 15 maande nie?  Is dit omdat ander se lewens aangaan, en oënskynlik sonder veel slag of stoot benydenswaardig goed lyk?  Is dit dat Juneldè so swaarkry en seerkry en ontneem word van haar kinderlike voorreg van onskuld?  Al hierdie dinge is waar, maar diep, diep binne besef ek dat die eintlike wortel een is van onregverdigheid.  Of eerder regverdigheid.
Ek besef dat ek my lewe lank geglo het dat die lewe regverdig is.  Dat goeie mense en goeie dade beloon word.  Dat enige gevolg ‘n oorsaak het.  En dat ek dus nou na my lewe kyk en wil uitskreeu:  “ Dit is nie ‘fair’ nie!”  Maar wie is ek om te dink enigiets is uit verdienste?  En indien wel, hoe verkeerd is die skaal van my lewe steeds nie, ongeag van Juneldè se ongeluk, in die rigting van voorreg oorgehel.  Glo my, ek is lus om op my ashopie te sit en grond toe te staar.  Ek is lus om my rooi-gesig-opblaaswange met nog bietjie selfbejammering te vuur…Maar ek kan nie meer nie, want wat ek het is net Genade.
Genade is om saam Juneldè te bad, in afwagting op die groot glimlag wat telkens daar is sodra haar boudjies die water raak.  Genade is dag en nag hulp om na my poppie om te sien.  Genade is terapeute wat absoluut geinvesteer is in sussa se herstel.  Genade is vriende wat onvoorwaardelik aanvaar dat ons en ons omstandighede, ons menswees nou onherroeplik anders is, maar steeds saam ons wil tyd deurbring en ons liefhet.  Genade is boeties, en sussies en ma’s en pa’s en oumas en oupas wat ‘n vangnet is, wat ‘n ondersteuningsisteem in gereedheid is.  Genade is elke klein treetjie na herstel wat ons poplap gee!
Met ‘n diep sug, bomenslike genade, vrede en ‘n nuwe uitkyk, blaas ek my bolwange af, laat sak ek my opgetrekte skouers, verander ek my rooi-houding en vra dat julle vir ons sal intree in gebed.  Dat jy opnuut ons poppie op jou gebedslys sal “highlight” en ons sal dra in tye van blindelingse, rooigesig, kwaadwees…

No comments:

Post a Comment