Blog Archive

Friday 4 April 2014

Hippo-terapie




Vreemde naam, ek weet!  Veral vir ons boertjies dink ons dadelik aan ‘n seekoei.  Nee, ons het nie nou totaal en al die plot verloor nie, en Juneldè kry nie seekoei-terapie nie (alhoewel sy mal sou wees daaroor indien dit wel die geval is, ons poppie is altyd ‘n bok vir nuwe sports)!
Hippo-terapie is die groot woord vir perdry terapie.  Of dan “equine-therapy” of “Adaptive riding therapy”.  Daar is heelwat name vir hierdie ponie-perdry terapie maar die interessantste is “hippo”.  ‘n Seekoei se naam Hippopothomus beteken dus letterlik see-ponie/perd.  En dus is hippo-terapie eenvoudig perdry-terapie. 
Die eerste Saterdag wat ons na die plasie in Krugersdorp gery het, was ek maar onseker oor wat om te verwag.  Ek het vanuit my A-tipe persoonlikheid telkens seker gemaak dat die terapeut deeglik bewus is van Juneldè se vermoëns, aldan nie.  Ek was nie seker hoe sy dan nou op ‘n perd sit gemaak gaan word nie, maar na deeglike navorsing oor die voordele van hierdie terapie, was ek ook ‘n gedetermineerde mamma dat sussa wel op ‘n perd sou klim.
Daar aangekom begroet hasies, varkies en varke, eende, hoenders en perde ons.  Ons word vriendelik gegroet en bekendgestel aan Autumn Hills se agtergrond en mense.  Ek kry die geleentheid om op te som waar sussa kort na die ongeluk was en die vordering en wonderwerk-herstel wat ons reeds beleef het tot nou.  Ek luister na myself en hoor opnuut hoe ver ons al gekom het.  Juneldè raak baie gesellig en meelewend met haar ogies se Ja en Nee en dit is duidelik dat sy baie uitsien na die perdry sessie!
Ons ontmoet vir Nemo, ‘n af-oor gerehabiliteerde ponie.  Dit roer my dat hierdie perdjie wat mishandel was, so in voeling kan wees met ons mensie se seer, haar onvoorwaardelik aanvaar, en reg is om te “werk”.  So het ons almal, mens en dier, ‘n roeping uit die Here se hand.
Juneldè word op Nemo se rug sit gemaak, en pappa is aan die een kant, Cherie die terapeut aan die ander kant.  Ons liefie kind sit regop op Nemo (met pappa en Cheriè wat klou om haar op sy rug te hou) en die perdjie loop in ‘n sirkel met haar.  Telkens stop Nemo, en terwyl ons nog wonder oor die rede hieragter, raak dit duidelik dat hy sussa se dystonia spasma voel aankom nog voor ons dit kan sien.  Sodra haar spiere ophou saamtrek, loop Nemo weer met haar.  Die aanvoeling en interaksie bring sommer trane na my oë.  En ons poplappie is in haar element, sy antwoord met oogknippe dat sy dit baie geniet, dat sy nie wil ophou nie, dat sy mal is oor Nemo en dat sy dit beslis weer wil doen!  Vir 20 minute kry Juneldè die wonderlike bevrydende gevoel van mobiliteit, met Nemo se loop-lyf onder haar wat presies simuleer wat ‘n mens se lyf beweging is as ons loop.  So kry Juneldè se spiere wat ons so sukkel om te mobiliseer beweging en oefening, haar diep kern-maagspiere, rug spiere, binnebeen, boud-  en nekspiere werk om by te hou!
Vir die res van Saterdag en Sondag laat Juneldè se lyfie haar en ons duidelik verstaan dat spiere gewerk het wat 15 maande terug gebruik is!  Haar boude trek knoppe, daar is biltonge op haar rug en as jy aan haar magie vat, trek sy terug van die eine maagspiere.  Maar as ons vra of sy weer wil gaan kuier by Nemo, dan antwoord sy:  “Ja, ja, ja, ja!”
Die wonderlikste was toe ons na die tyd vir sussa en Nemo teen mekaar hou, en Nemo haar opruik met sy neus en drukkies gee met sy gesig.  Juneldè se arms en hande beweeg op en af, en skielik merk ons hoe haar voorarm vorentoe gaan, sy haar vingers oopmaak en Nemo begin vryf…Dit is asemrowend! Hierdie is die eerste keer wat Juneldè haar arms en hande willekeurig gebruik om iets te doen.
Ons gaan dus nou elke Saterdag vir Nemo kuier en dis met opgewonderheid wat ek uitsien na hierdie perdjie-op-gallop uitstappies!






No comments:

Post a Comment