Blog Archive

Monday 14 October 2013

Om beter te kan sien, my kind...

Glasige ogies wat nie kon sien...
Dit was weke na die ongeluk wat ek gewag en gewens het om weer in my poplap se ogies te kan kyk…En toe sy uiteindelik hulle stadig begin oopmaak, was hulle glasig en sonder reaksie of herkenning.  Hierdie ogies het my hart in duisend stukke gebreek…Ook die nuus dat sy funksioneel blind is was verbysterend en het my in koue angsweet gelaat.
Stelselmatig het ons sussa se ogies se kleur weer bekend geword, en het daai ogies wat net in een posisie vasgesteek het begin rondbeweeg.  Maar daarmee saam het die groot ogies net nog groter gerek en my telkens laat dink aan Rooikappie se ouma wat sê: “Dis om beter te kan sien, my kind”
Daar kon dus nie vir ons beter of meer verblydende nuus wees as toe ons die instituut besoek en hulle ons verseker dat daar baie is, wat hulle oor jare al die bewyse van gesien en beleef het, wat ons vir hierdie sienende-blinde ogies kan doen.  Ons het dadelik met ons terugkeer weggespring en vir eers gefokus op die pupille se lig-refleks.  Talle male per dag het ek en ons poppie in ‘n donker kamer gaan sit en het ek met ‘n Pen-flits haar ligrefleks gestimuleer.  Na ‘n paar dae het ons al ‘n groot verbetering gesien en na twee weke was haar ligrefleks perfek.  Dit is die wonderlikste gevoel om hierdie verbetering te kan sien en beleef, en dankbaarheid het ons harte lig gemaak.
Dadelik het ons weggespring met die volgende stap in “projek ogies”, en hierdie stap behels baie swart en wit stimulasie.  Pappa Julius het groot wit en swart blokke geverf wat oral saam sussa reis, en kort-kort in die dag kyk ons na groot wit en swart voorwerpe op kaarte.  Ek het ook ‘n Home-movie gemaak van hierdie intense beelde, en nou fliek ek en my poplap paar keer per dag terwyl sy haar verkyk aan haar mamma-regisseur se Oscar wenner materiaal…Daarmee saam het ons nou ‘n slim plan beraam om haar kamerplafon met hierdie blokke te versier. 
Dit was dus ‘n wonderlike verassing toe ons een hittige somer oggend Juneldè se dakwaaier aansit en sien hoe sy die sirkel bewegings volg.  Ons was oorstelp van vreugde oor hierdie bewys dat blinde ogies besig is om siende ogies te word.  Hierdie was die motivering wat ons nodig gehad het om hart en siel in te spring en die instituut program voluit aan te pak!
Ons werk ook hard aan ander dinge, soos om sussa te laat eet.  En na ‘n week se gereelde voer en die sluk-refleks met sterk smake stimuleer, eet Juneldè nou al amper 200ml puree per dag en drink sy inspuitings vol water, met haar MOND! 
Sondag die 13de Oktober was dit 9 maande na die ongeluk, en my hart is so seer.  Ek baklei elke dag teen die monster van moedeloosheid, depressie en die mishoop-ashoop wat wink.  Ek gesels ook baie met die Here oor die begeertes van my hart en my drome vir ons toekoms en Juneldè se lewe.  In stilte luister Hy na my kleuter-tantrums, trane, mismoedigheid en vrae…
En dan op ‘n dag antwoord Hy op al die hoekoms en waaroms:  Hierdie pad is vir ons uiteengesit “om beter te kan SIEN, my kind”!
Want nou kan ek sien wat die woord bedoel in Psalm 37:4 “Vind jou vreugde in die Heer, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer”.  In my menslikheid het ek altyd gedink hierdie beteken dat al my hartswense sal waar word as ek die Here dien.  Maar nou besef ek dat dit dalk eerder beteken dat as ek my vreugde in Hom vind, Hy die dinge wat my hart begeer in my hart plaas.  Niks wat ek dus begeer is my eie menslike begeertes nie, maar word deur die Here aan my hart gegee…
En ek dank Hom want soos wat Hy Juneldè se ogies leer om weer haar wêreld te kan sien, so leer Hy ook my hart om meer en meer met geestelike oë te kan SIEN…

Ons poppie sit al so mooi vir paar minute met haar koppie regop...

Kyk, sy staan!  Daar was 'n tyd na die ongeluk wat dit ons vier volwassenes geneem het om Juneldè in 'n staande posisie te kry, nou kan een persoon haar regop hou...





Ons eerste blik na die ongeluk van skrefies-ogies in ICU

Kyk dan so mooi blom!

Juneldè se stimulasie-area in die huis, met haar Nanny - Ratie

Die blokke het my skoon uitgeput

Ogies met meer lewe en glans...


No comments:

Post a Comment