Blog Archive

Saturday 27 July 2013

Die nuanses van normaal...

Ek sukkel nou al vir twee weke met hierdie woord...normaal.  Daar word meer en meer gereeld woorde na ons kant toe gegooi soos abnormaal en gestremd. Telkens kom my hele wese in opstand, want hierdie woorde pas nie by ons hoop en lewensuitkyk in nie.  Ek verkies woorde soos wonderwerk, "fighter" en inspirasie as ek van Juneldè praat.  As ek na haar kyk sien ek 'n beseerde dogtertjie, wat moedig haar pad na herstel oopveg en saam ons elke dag se klein en groot wonderwerke "celebrate".

Tog rol ek hierdie woord op my tong rond; normaal...normaal. Dit beteken dat jou lewe in die norm inpas, dat jou bestaan bekend is aan die massa, en jou probleme en uitdagings gedeel en begryp word deur alle mense.  As dit dus die waarheid is, dan stem ek saam, ons situasie is abnormaal en ons liefiekind ook.  Vandat sy gebore is was sy uniek, spesiaal, besonders.  Ons lewe val buite die norm van statistiek want ons kies om aan ons huwelik te werk, naby ons familie en vriende te leef, aan 'n kerk en geloofsgemeenskap te behoort, en Jesus volgelinge en gelowiges te wees.  In vandag se tyd is dit verseker abnormaal...

Juneldè is nou al vir vier weke by die huis.  Vier wonderlike, rustige weke waarin sy medies stabiel is.  Ons emosies ry wipplank, van positief en dankbaar tot kwaad en hartseer...Elke dag kies ons opnuut om die mooi raak te sien, om ons nuwe roetine te omarm en as gesin 'n balans te vind.  Om weer deel te word van die "normale" gang van die lewe.  Daar word ingespring om vir Juneldè bakkies puree te maak, wat volgens 'n spesifieke dieet uitgewerk word.  Ons koop fisioterapie toerusting soos gymballe en sensoriese balle, 'n spandex "womb-swaai", staanraam en "hammock".  Ek kyk om my rond en stem saam, in meeste huise is hierdie toerusting nie normaal nie.  Maar in ons huis is dit.  Ons juig saam met die terapeute as Juneldè haar nekkie begin draai en al vir 7 sekondes kan regop hou.  Ons werk 'n program uit vir ons poppie se hand- elmboog- en voet-stutte.  Ons leer om self spiere te strek, 'n stimulasie program saam te stel en terselftertyd die lewe weer vir Juneldè te probeer lekker maak.  Ons nagsuster het 'n familiekrisis in die Oos-Kaap en vir 6 nagte is ons sonder hulp.  Ek en Julius vat skofte in die nag, slaap om die beurt vyf ure en nagwaak vyf ure by ons poppie.  Sy slaap twaalf ure deur, elke nag.  Ons is so dankbaar oor hierdie normaliteit en genesende rus wat sussa gegun word.  Self kan mens nie saam haar kop neersit en oë toemaak nie, want sy moet gereeld gedraai word, stywe spiere gestrek word, medisyne duer die nag gegee word en haar saturasies, temperatuur en hartspoed gemonitor word.  Ons haal in op verlore administrasie, Bybelstudie en gebed. 

In die nagtelike ure is dit die moeilikste om met die vrae te worstel.  Om teen die selfbejammering, bekommernis, vrees en hartseer te baklei.  Maar met elke dagbreek kies ons weer om te glimlag, die lewe te geniet, gelukkig en dankbaar te wees.

Ek kyk na Juneldè en ek is in verwondering oor hoe mooi sy lyk.  Haar kleur is pragtig, haar ogies wakker, haar koppie draai na beweging en klanke toe.  Sy en Bella vind 'n nuwe ritme, waar Bella nie meer balle na Juneldè toe dra om te speel nie, maar haarself telkens opkrul op haar maatjie se warm lyfie en die twee cuddle te lekker.  Dan is daar die kontras van die besef en skok dat ons poppie se een been na binne draai en die heup oppad is om te dislokeer.  Haar linkerbeen is 6cm korter as die regterbeen en inderhaas moet ons 'n ortopeut se raad inroep.  Ons is bekommerd en ontsteld, wat is die langtermyn impak van hierdie?  Dit is ook ongemaklik en seer vir Juneldè en opnuut bruis my opstandigheid na bo, hoekom moet 'n onskuldige driejarige hierdie pad loop...

Weekliks het ons elke dag een tot twee keer, vir 'n uur of meer terapie.  In plaas van my meisiekind rondry na Balletklasse, Kunslessies en om te gaan "shop", jaag ons van Fisioterapie, na Arbeidsterapie na Spraakterapie...Tussendeur pas ons die Pediater, Dieetkundige, Pediatriese Neuroloog, Homeopaat en Ortopeut in.  Ons ontvang ook 'n berg rekeninge deur die pos, en dankbaar staan ons teenoor ons Vader, wat ons gehelp het om 'n goeie mediese fonds te kry.  Verder word die verbysterende bedrae wat nie deur ons fonds gedek word nie, uit Juneldè se trust gehaal...Ons harte is nederig oorstelp oor die hulp wat van alle oorde instroom. 

Ons worstel ook met die moeilike besluit om na 'n instituut in Philidelphia te gaan wat ouers vanuit hulle jarelange ervaring leer om hulle kleingoed wat 'n breinbesering opgedoen het te kan help.  Ons roep die familie se hulp en raad in, en saam bespreek en bevestig ons ons vlugte vir September, met die gerustheid dat al sussa se oumas en oupas by haar sal kom bly...

Somtyds slaap Juneldè so rustig en diep, dat ek oor haar buk om myself te vergewis dat sy asemhaal.  Die Angelcare word 'n lewenslyn van gemoedsrus.  Ons weet hierdie is beslis nie normaal nie, maar vir ons is dit deel van die proses om te kan aangaan, om uit die kringloop van angs en spanning te kom, en weer te vertrou dat ons kind kan asemhaal, sal aanhou asemhaal.  Ons besef ook telkens dat ons van voor af onsself moet bemagtig om 'n mamma en pappa te wees, wat ons liefiekind verstaan, kan "lees", en haar behoeftes te kan voorsien.  Soms as sy ongemaklik is en seer het, en hard kerm en huil, is ons dadelik reg om die ergste te verwag, net om dan te besef dat sy moeg is, of honger en dors is, of 'n vuil doek het, of bloot vasgehou en geliefie wil word...Ons leer om eers na haar tipe huil en klantjies te luister, en laat haar toe om so met ons te kommunikeer.  Sy ontdek haar emosies van hartseer, omgekrap en kwaai.  Ons giggel oor haar sterk persoonlikheid wat weer na vore kom, haar hardkoppigheid en eie wil wat vir een en elk so sigbaar is.  Geen twyfel dat sy selfs in haar onvermoë om te kan beweeg of praat, nogsteeds presies weet wat sy wil hê, en heelwat volwassenes laat spring om aan elke behoefte te voldoen...

Gister gaan stap ons in die buurt, sussa in haar spesiale wa, ons gaan draai by SPAR en koop eetgoed vir die aand se beplande braai.  My mamma-hart krimp ineen oor die kyke na Juneldè...By die toonbank waar ons betaal gesels die twee kassiere in hulle taal, hulle kyk met fronse en jammerte na Juneldè...Julius stoot haar solank na buite terwyl ek die transaksie afhandel.  Ek besluit om met hulle te deel dit wat hulle nie verstaan nie..."She drowned in January, she was clinically dead for forty minutes"  hoor ek myself sê.  "No, eish, I'm sorry".  "She is a miracle, look at her, is it not amazing that she looks this good, are out and about and alive after six months?"  "Yes..."  stem hulle saam.  "She will be ok, you are strong and she is strong..."

Ek stap weg en besluit om hierdie getuienis aan te gryp.  Om my dogtertjie se stem te wees tot die dag wat sy kan vertel wat gebeur het, die wonderwerk kan deel waarvan sy die voorreg gehad het om deel van te wees.  Dalk is dit dan goed om nie normaal te wees nie, want die abnormale verander jou hele wese, uitkyk en menswees, ten goede...

Juneldè en Bella kuier saam op die bank...

Uitgespan op die "hammock" buite...

Waar is Bella en sussa?

No comments:

Post a Comment