Blog Archive

Tuesday 6 August 2013

Ons Berg word ons Megafoon...

"You don't have enough faith," Jesus told them. "I tell you the truth, if you had faith even as small as a mustard seed, you could say to this mountain, 'Move from here to there,' and it would move. Nothing would be impossible."
Vir lank het ek onderaan my berg gestaan en gebid vir Geloof.  Genoeg Geloof om hierdie berg te skuif, om Juneldè oombliklik te genees.  Na ‘n paar maande se opkyk en moedeloos wees omdat my berg steeds so onherbergsaam lyk, het ek besef dat die Here ons deurentyd toegerus het om ons berg uit te klim.  Dus het ek my toerusting opgeneem en die tog na bo aangepak…Stadig maar seker, en besef “The Lord does not call the skilled, He skills the called”.
Ek is nog nie bo nie, maar soos ek stadigaan klim het ons berg ook ons megafoon geword.  ‘n Instrument van Heilige perspektief, dat ek telkens kan stilstaan, omkyk en Juneldè se herstel  treëtjie vir treëtjie kan aanskou.  Dus staan ek op my berg vandag en gebruik die hoogte as ‘n megafoon om Juneldè se herstel tot nou met jou te deel…
Daar was ‘n stadium, net na die ongeluk,wat ons poplap se lyfie met spasmas styfgetrek het, haar arms na bo gebuig sonder enige manier om hulle na onder te mobiliseer terwyl haar hande in vuiste vasgeklem was.  Sy kon nie haar liggaamstemperatuur reguleer nie, en haar asemhaling was vlak en ongereguleerd.  Sy was aan suurstof gekoppel en steeds het haar saturasies wisselvallig gebly.  Haar spysverteringstelsel was ‘n uitdaging, met koliek, naarheid, braking en boepmagie ‘n alledaagse realiteit.  Ons poppie het geen dag – en nag roetine gehad nie, haar natuurlike klok en ritme was heeltemal uit.
Ons was aanvanklik baie dankbaar dat Juneldè kan hoor, maar het gou besef dat sy enige klank as baie intens ervaar, nie sin daaruit kan maak nie, en baie angs en spanning ervaar.  Haar ogies het soos albasters gelyk, geen herkenning en lewe nie, met pupille wat nie op lig reageer nie en in ‘n vaste staar na regs vasgevang was.  Haar longe moes elke dag longfisio kry, en die geroggel in haar bors was ‘n kommerwekkende aardigheid.  Sy het haar tande vasgeklem en haar tong na bo in haar verhemelte vasgedruk, terwyl sy nie haar spoeg kon sluk nie, en dit bloot in haar longe geaspireer het.  Ons kon nie aan Juneldè se gesiggie vat nie, nie room of lippies aansit nie, want die aanraking sou ‘n onmiddelike spasma teweeggebring het.  Verder het Juneldè nie geweet waar haar lyfie begin en eindig nie, sy was totaal en al gedistansieër van haarself.  Ons het geen manier gehad om te weet of sy bewus is van haar omgewing nie, of sy weet dat ons daar is vir haar en haar oneindig lief het nie. 
Party dae is ek soms nog hangende aan duiselingswekkende afgronde.   Maar as ek ‘n paar sekondes afkyk na dit wat was,  besef ek die wonderwerk van dit wat is.
Juneldè is al by ‘n plek waar sy haar temperatuur reguleer, en haar saturasies konstant bo 94 hou.  Haar lyfie verwerk haar kos, wat sy steeds deur ‘n Mickey buis kry, en haar magie is gemaklik en gereeld.  Sy slaap elke aand twaalf ure aaneen, en is in die dag mooi wakker en betrokke.  Haar ogies draai rond en reageer goed op lig en donker, haar oë vang beweging, primêre kleure en blinkigheid vas, en sy staar na haarself in die spieël, regte vroumens!  Sy kan ook al haar nekkie, met vreeslike inspanning, vir sewe  tot veertien sekondes regop hou.  En haar armpies beweeg willekeurig heen en weer, terwyl sy met ‘n oop handjie en vingers haar gesig verken.  Sy raak gou gou kwaad vir die persoon wat hulle vingers in haar oë durf druk, net om te besef dat dit syself is. 
Ons werk hard daaraan om haar gesigspiere te stimuleer en die lippies te laat ontspan.  Ons werk aan haar kou deur op die kiestande te druk en is baie opgewonde omdat sy haar tong heen en weer beweeg.  Haar gesiggie het heelwat meer funksie teruggekry, met losser wangetjies en ‘n soen pruil-bekkie.  Dit laat haar stadig maar seker meer en meer uitdrukking en emosies kommunikeer.  En as sy huil, weet ons sommer dadelik of sy hartseer, kwaad of ongemaklik is.  Soms sal sy in haar slaap hardop lag, en ek wens ek weet wat sy droom.  Soggens as ons haar wakker maak, gee sy vir ons ‘n halwe smile…Sy sluk haar spoegies, suig aan ‘n Nutella dummie, en hanteer tandeborsel so goed soos enige ander driejarige, beslis nie haar gunsteling aktiwiteit nie!
As pappa in die aand by die huis kom draai haar nekkie en ogies na hom toe, en as hy haar nie optel nie, huil sy vir aandag.  Sy cuddle teen haar pappa se bors op, en sug lang sugte van genoegdoening.  Sy kuier gereeld saam met ons en vriende, soos altyd, en hanteer die geroesemoes van stemme sonder om angstig of ontsteld te raak.  Ons liefiekind het ‘n baie vaste roetine, wat sy op aandring, veral badtyd, en soos ‘n regte lady vir 20 minute in die bad lê. 
Vanaf my berg kyk ek  af na onder, en ek dank die Here vir Sy genade en guns vir ons gesin.  Ek kyk dan op na bo, en ek raak duiselig oor die lang tog wat nog voorlê.  Juneldè moet leer eet, praat, sit, staan, loop, hardloop…

Maar hier waar ons alreeds is, word my berg my megafoon om die wonderwerk te verkondig van Juneldè se genesing tot nou…

No comments:

Post a Comment