Blog Archive

Monday 19 August 2013

Te midde van die storm...

Die afgelope twee weke het die storm in my gemoed my kontak en sein na die buitewêreld afgesny...Die reënboog van seën het egter oor ons opgekom en ek wil graag hierdie kleureprag met jou deel.  Ek het besef dat aan die einde van die reënboog is nie 'n materialistiese tasbare goudpot nie, maar slegs onse Here Jesus se Vrede, die grootste rykdom op aarde.

Juneldè se linkerheupie het baie skielik en baie sigbaar na binne begin draai, soveel so dat die een beentjie 6 cm korter is as die ander een.  Ons besef dat ons by die spesialis moet uitkom en word gelei na 'n wonderlike man, met 'n positiewe gesindheid en wysheid wat hy na ons kant toe uitstraal.  Die nuus is egter nie goed nie, en sy bekommernis tasbaar, Juneldè se heup is oppad om te dislokeer en van die spiere moet dringend chirurgies verleng word.  Ons harte is seer...Ons vra is baie, ons gemoedere ontstuimig.

Na vele gesprekke met Juneldè se rehabilitasie span en dokters, word 'n datum vasgestel vir die operasie.  Maar hoe nader die tyd, hoe meer raak my trane, angs en vrees.  Ek bid en ons bid en soek die Here se wil, maar dit voel of ons Hom nie kan hoor terwyl die horlosie se wyser so hard die tyd aftel nie.  En terwyl die storm woed, raak die Here ons aan op 'n wonderbaarlike wyse.  Hy stuur 'n groepie mense oor ons pad om saam ons in gebed te staan, om ons moeë geeste op te rig en uit te roep na ons Vader.  Hulle bly in Olievenhoutbosch, hulle vat telkens 'n taxi op hulle onkoste om na ons toe te kom en dring aan om weer en weer te kom.  En in 'n droom verskyn die Here aan een van die vrouens wat saam ons bid.  Sy vra of ons 'n bottel pienk bubblebath het waarin ons altyd vir Juneldè gebad het...Ons antwoord bevestigend en gaan haal so 'n bottel skuimbad.  Sy raak opsigtelik opgewonde en antwoord dat hierdie die bottel is in haar droom en dat ons die bottel moet seën en dan Juneldè elke aand in hierdie borrels bad.  Vir twee analitiese, stoere Afrikaanse mense klink hierdie vreemd, maar ons gees weet dat hierdie opdrag van die Here af is, en dat dit juis nie hoef sin te maak vir ons om te vertrou nie.

Ons bad ons liefiekind, doop haar in skuim terwyl ons oor haar bid.  Haar operasie word met 'n week uitgeskuif.  Ons hou aan glo en bid.  Intuitief weet ons dat chrirurgie nie nou die pad vir Juneldè is nie, en soek 'n tweede opinie by 'n ander spesialis.  Die nuwe spesialis skets 'n totaal ander prentjie van Juneldè se heup, en is glad nie oortuig dat ons moet opereer nie.  Ons harte juig!  Mens kan dit seker toeskryf aan toeval, aan mense se verskillende uitkyke en professionele opinies.  Maar nee, ek weet, ons is weereens te midde van ons storm, deur die Here gelei, en kon ons eerstehands aanskou hoe Hy Juneldè se pad bestuur en haar spiere binne 'n week verleng het sonder die nodigheid van 'n teater, skalpel en mediese hande...

Die wind het gaan lê, en selfs al val die reëndruppels steeds, kyk ons anders na die storm...Ons begin die Here loof en prys, ons besing Sy naam, nie omdat Hy wonderwerke doen nie, maar omdat Hy is!  Nie omdat Hy genees nie, maar omdat Hy die geneesHEER is...Ek word uitgedaag met die vraag; aanbid ek die Here sodat Hy Juneldè kan genees?  Meet ek die Here se genade en almag aan Juneldè se herstel, of aanbid ek Hom ondanks enigiets wat ek sien?  Papsopnat in die reën, sonder 'n sambreel, worstel ek met hierdie vraag...Groei my Geloof gelykmatig aan die seën wat ek ontvang, of groei my geloof juis omdat ek slegs by Hom kan skuiling vind ten tyde van die wolkbreuk oor my kop.

Elke dag is dit opnuut 'n uitdaging om die Here te loof en te dank vir elke reëndruppel wat ons nader trek aan Sy Heiligdom...Maar te midde van die storm, sal ek en my huisgesin die Here prys!







No comments:

Post a Comment