Blog Archive

Thursday 29 August 2013

Ons rollercoaster, mallemeule, wipplank dae...

Die tyd stap aan en ek wil so graag op die blog skryf, al so baie kere het ek met die laptop gesit, maar dan kom sit die mallemeule in my kop...Ek wil skryf oor die mooi, die positiewe, die Here se genade en liefde.  Ek wil ons storie as 'n getuienis aangryp en Sy naam grootmaak.

Maar ek is kwaad, hartseer, met watte en wol vir gedagtes, en onverklaarbare angs elke dag.  Dit is seker wat die grootkoppe noem Posttraumatiese stres, of net stres, of net trauma.  Wat ookal die intimiderende woord ookal is, ek sukkel.  En ons sukkel.  Die huil sit so vlak, die verlange so diep, woorde raak op, ons glimlagte word opgeplak.  Ek en Julius probeer mekaar die seer beskerm, ons word elkeen stil rondom die ander.  Maar bowenal is ons moeg, moeg, moeg.

Die Here is goed vir ons, vir Juneldè en in hierdie situasie.  En vir geen oomblik twyfel ek hieraan nie.  Maar ek het ook besef, Hy verstaan.  Hy kyk verby die glimlag en is gedagtig daaraan "dat ons net stof is".  Ek hoef nie die Here te beskerm nie.  Hy is net daar...daar om na my vrae te luister, my woede te vat, my trane af te vee, my desperaatheid aan te hoor.  Ek hoef niks te doen om iets te kry nie, wat 'n verligting!  Ek hoef nie enigiets meer vanuit myself te doen nie, ek hoef net te wees.  Eerlik te wees.

Die naweek kry ons 'n nuwe verpleegster en ons sien uit na salige aande van diepe slaap, en om Vrydae en Saterdae-aande te reserveer om weer jonk te wees met DVD's en take-aways, en sommer net daar vir mekaar te wees.  Want die afgelope paar maande praat ons net oor Juneldè, en oor alles rondom haar.  Vrydagaand word daar egter nog 'n curveball na ons kant gegooi, die verpleegster werk 'n volle twee ure by ons.  Sy sit Juneldè op haar rug neer toe sy opbring en sy verstik.  Juneldè haal nie asem nie, en haar oë rek groot, beangs en benoud.  Ek skrik groot, en soveel terugflitse en beelde kom sit in my hart.  Ons kry die situasie gou onder beheer, Juneldè se saturasies en asemhaling herstel, maar weereens staar ons lang nagte in die gesig.  En ek voel in twee geskeur, want ek is so deeglik bewus daarvan dat nie almal 'n verpleegster kan bekostig nie en dat die Here se hand en seën op ons trust rus.  Tog raak die mens in my kwaad, die "stof" ek is moeg positief gewees.  Ek wil teruggaan na 'n tyd wat ons lewe eenvoudig was, sin gemaak het, en ek nie gekonfronteer word met die moeilike, uitdagende en onsekere lewe nie.  Wat ek nie dankbaar hoef te wees oor 'n verpleegster, Botox, spesiale toerusting en en en nie, want dit hoef bloot net nie nodig te wees nie.

Tog gee die Here ons krag vir elke dag.  Tog gee Hy my die berusting dat wat ek ookal voel, ok is, solank ek dit by Sy voete aan die lig bring. 

Juneldè se vordering is stadig.  Stadiger as wat my mamma-hart wil hê.  My ore smag na haar stem wat mammie sê.  Na haar lag en liefdevolle energieke teenwoordigheid.  In 'n tyd wat die moegheid so vlak in my lyf, gees en siel lê is daar tog soveel wat ons Hoop lewendig hou. 

Die Here hou Juneldè styf vas toe sy teater toe gaan vir Botox.  Ons bid dat haar pyn gespaar sal word, en weereens sien ons hoe sy wonderbaarlik terugbons en na 'n dag aangaan met alle terapie.  Sy is mal oor die hydroterapie, en weereens is dit vir ons net so genesend en deel van 'n groter plan om haar in die swembad te sien.  Om te sien hoe die water deel is van haar herstel.  Om te rejoice oor haar tongetjie wat losser kom, haar gesiguitdrukkings wat meer word, haar been wat nou slegs een cm korter is as die ander.  Wow, wow, wow! 

Elke dag is 'n wipplank, rollercoaster, mallemeule....Dankie dat ek die op en af met jou kan deel!











2 comments:

  1. Hi
    Strength and courage to you. God says everything is going to be ok. She will experience a complete recovery. Don't give up, rest in Him...Psalms 37..

    ReplyDelete
  2. My gebede is met julle vandag, vir krag, moed en hemelse vrede!!Ek bid elke dag vir julle en Junelde!

    ReplyDelete