Blog Archive

Monday 9 September 2013

Gemengde gevoelens...

Hier waar ek sit klop my hart in my keel en is my gedagtes aan die weghardloop...Ek beleef dankbaarheid, opgewondenheid, skeidingsangs, vlinders van spanning in die maag.  Ons vertrek oor 'n paar uur na die VSA, net ek en my man.  Ek sien so uit om weer tyd saam hom te spandeer, die mooi en die lekker, die pret en die saamwees van die lewe te ervaar.  Julius is my ander helfte, my geesgenoot en die liefde van my lewe.  Hierdie afgelope paar maande het dit bevestig, en ek dank die Here vir my man en die hoof van ons huis.

Hoekom gaan ons Amerika toe?  Om by 'n instituut 'n kursus te gaan bywoon; What to do about your brain injured child.  Die instituut is die IAHP in Chestnut Hill, Philidelphia.  Ons hoop dat ons met nuwe insig sal terugkom en Juneldè se wonderwerk herstelpad opnuut bemagtig sal kan loop.  Ons gaan oppad daarheen 'n draai in New York en Washington gaan maak, en ons wil M&M's, Chilli dogs, Pretzels en Starbucks geniet.  We want to live the American way!

Juneldè se oumas en oupas kom bly by haar in ons huis.  Ons het omtrent boeke geskryf om die formele oorhandiging van verantwoordelikhede en die liefie-lyfie se druk program deur te gee.  Alles is reg, in orde, en ek weet sy gaan omring word met liefde en baie bederf.  Dit is moeilik om te "let go", om nie die ergste te verwag nie en te vertrou in die Here se versorging en beheer.  Want 'n mamma dink mos als gaan uitmekaar uit val as sy nie daar is nie...

So tot die 22ste gaan die blog effens stil wees en ek julle 'n blaaskans gun voor ek terugkom met nuwe geesdrif en krag.  Maak julle gereed vir 'n laaaaaang leesstuk hierna.

Hoe gaan die met Juneldè?  Dit gaan regtig baie goed...Sy vorder steeds elke dag, en ons het geleer om die kleinste klein verandering en verbetering te vier.  Sy hou nou al daai nekkie vir 40 sekondes regop.  Haar gesiggie kry daagliks nuwe spierbeheer en bykomende uitdrukkings by.  Sy gooi heelwat minder op.  Sy het die oulikste dogtertjie hoes, was sy so wonderlik beheer kry, en ons is nie telkens paraat met 'n spoegdoek as sy so hoes nie of bang dat sy sal ophou asem haal nie.  Haar hare groei met 'n spoed, en nie net is dit 'n ander kleur as voor die ongeluk nie, maar ook krul dit te kostelik aan die agterkant!  Sy kyk baie meer rond, sy fokus makliker op gesigte en haar pupille reageer soveel beter op lig en voorwerpe wat nader en verder van haar sig af gehou word.

Ons was ook gister vir die eerste keer na die ongeluk daardie Sondag weer met haar in die kerk...Die Here het ons en die gemeente geseën met Bruce Wilconson se teenwoordigheid en 'n Geesvervulde preek.  Ons en Juneldè het ook voor die gemeente gaan staan om dankie te sê vir hulle gebede en ondersteuning, om opnuut vir gebed te vra en ons hoop op volkome herstel te deel.  Bruce Wilconson het sy hande op Juneldè gelê en so diep opreg vir haar gebid.  Ek het lang maskara-streep trane gehuil, en die Here se teenwoordigheid so tasbaar gevoel..."Please God heal this child.  Fully and completely.  Please do it now, let not us wait.  Please do not say no.  Let your will be done.  We pray for a full and complete recovery...."

Amen en Amen en Amen***


No comments:

Post a Comment