Blog Archive

Thursday, 3 April 2014

Kwaad



Ek voel ek moet dalk hierdie skrywe eerstens met ‘n diep jammer begin…Dit is meer as ‘n maand dat ek laas op hierdie blog gesels het en ek kan baie verskonings noem, ja ons is besig, ja ons dae en weke is ‘n warboel van terapie en pille en dokters en hoogs en laags.  Maar die eintlike rede is my kwaad.  Ek is nou al vir meer as ‘n maand lank kwaad.  Enigeen wat skryf sal weet dat jy nie sommer oneerlik kan skryf sonder om uitgevang te word nie.  Dus het ek myself daarvan weerhou en gewag dat hierdie stomende, skreeuende, verontregte gevoel weggaan.
Heelaas, dit het nie.  Die ironie is dat ek ‘n sielkunde agtergrond het en tot en met Juneldè se ongeluk goed op dreef was met my praktyk as Lewensstylafrigter.  Ek het ‘n sertifikaat as Results Coach en Meesters graad in Persoonlike en Interpersoonlike leierskap (nog indrukwekkend nè!).  Maar die afgelope maand is my kennis en selfspraak en eie pogings om myself te coach baie ver verwyderd van die emosies waarmee ek worstel.  Ek kou tameletjie hiermee, voel hoe my masker-glimlag soms kraak op my gesig net om die front van okey wees voor te hou.
En dan word ek gedwing tot diep selfondersoek.  Wat is dan die wortel van hierdie kwaad?  Is dit dat ek fisies moeg en gedreineer is?  Is dit dat ek worstel met geloofsvrae en my persoonlike teologie nie strook met my belewenis van die afgelope amper 15 maande nie?  Is dit omdat ander se lewens aangaan, en oënskynlik sonder veel slag of stoot benydenswaardig goed lyk?  Is dit dat Juneldè so swaarkry en seerkry en ontneem word van haar kinderlike voorreg van onskuld?  Al hierdie dinge is waar, maar diep, diep binne besef ek dat die eintlike wortel een is van onregverdigheid.  Of eerder regverdigheid.
Ek besef dat ek my lewe lank geglo het dat die lewe regverdig is.  Dat goeie mense en goeie dade beloon word.  Dat enige gevolg ‘n oorsaak het.  En dat ek dus nou na my lewe kyk en wil uitskreeu:  “ Dit is nie ‘fair’ nie!”  Maar wie is ek om te dink enigiets is uit verdienste?  En indien wel, hoe verkeerd is die skaal van my lewe steeds nie, ongeag van Juneldè se ongeluk, in die rigting van voorreg oorgehel.  Glo my, ek is lus om op my ashopie te sit en grond toe te staar.  Ek is lus om my rooi-gesig-opblaaswange met nog bietjie selfbejammering te vuur…Maar ek kan nie meer nie, want wat ek het is net Genade.
Genade is om saam Juneldè te bad, in afwagting op die groot glimlag wat telkens daar is sodra haar boudjies die water raak.  Genade is dag en nag hulp om na my poppie om te sien.  Genade is terapeute wat absoluut geinvesteer is in sussa se herstel.  Genade is vriende wat onvoorwaardelik aanvaar dat ons en ons omstandighede, ons menswees nou onherroeplik anders is, maar steeds saam ons wil tyd deurbring en ons liefhet.  Genade is boeties, en sussies en ma’s en pa’s en oumas en oupas wat ‘n vangnet is, wat ‘n ondersteuningsisteem in gereedheid is.  Genade is elke klein treetjie na herstel wat ons poplap gee!
Met ‘n diep sug, bomenslike genade, vrede en ‘n nuwe uitkyk, blaas ek my bolwange af, laat sak ek my opgetrekte skouers, verander ek my rooi-houding en vra dat julle vir ons sal intree in gebed.  Dat jy opnuut ons poppie op jou gebedslys sal “highlight” en ons sal dra in tye van blindelingse, rooigesig, kwaadwees…

Friday, 21 February 2014

Die wonderwerk van keuse....


Juneldè moes nou al vir meer as ‘n jaar verlief neem daarmee dat almal vir haar besluite neem.  Sy is ‘n lyfie wat versorg word, ‘n mensie met geen keuse of opinie.  Die feit dat sy so beperk is in haar mobiliteit en spraak, en so min maniere het om haarself te laat geld, het gemaak dat daar gereeld vir ons gevra word wat sy dan nou verstaan, begryp, en inneem van haar omgewing.  Is sy dan nou kognitief bewus en wat van haar intellek.  As mamma het ek van die begin af intiutief geweet dat sy steeds slim is, weet wat aangaan en kan onderhandel en manipuleer.  Ek kyk in haar oë en ek WEET dit net…
Ek het aangehou om met haar te praat soos met ‘n 4 jarige poppelop.  Ek het haar emosies geverbaliseer en begin om te waak oor wat daar rondom haar gesels en bespreek word.  En in die oortreffende trap gee ons vir haar erkenning en druk ons ons trots en liefde en aanvaarding vir haar uit.
Die jaar het afgeskop met ‘n tawwe program vir ons en sussa.  Maandae is dit spraakterapie en swemterapie.  Dinsdae is dit Fisioterapie.  Woensdae Arbeidsterapie en Swemterapie.  Donderdae Fisioterapie en Swemterapie.  En Vrydae sluit ons af met Braingym/Babagym van Melodie de Jager.
Saam met die terapie kom daar toe ‘n deurbraak van genade.  Die spraakterapeut merk op dat Juneldè beheer het oor haar oogknippe en binne een sessie leer sy vir haar om met ‘n lang toemaak oogknip Nee te sê en ‘n vinnige kort opmekaar oogknip Ja te sê.  En uiteindelik kan Juneldè ook haar Godgegewe reg van keuse uitoefen! 
Ons vra haar of sy musiek wil luister of opgetel wil word.  Of sy wil gaan stap of buite of binne wil wees.  Ons vra haar of haar ogies kan sien en sy sê Ja.  Ons toets haar kognisie met kleure en prent en voorwerp herkenning en sy antwoord in die kol.  Wow, dis ongelooflik hoe ‘n groot verskil hierdie vir ons en Juneldè maak.  En sommer skielik kommunikeer almal met haar asof sy begryp, verstaan en menswaardig is…Wat sy ook is!
Ons vang onsself ook dat ons haar meer geniet, vir haar lag, en haar erken in geselskap.  Ons gaan kerk toe laas Sondag en soos altyd sit ons heelvoor met sussa op haar gunsteling plek, pappa se skoot!  Sy is stroopsoet in die kerk, sy huil nie en word nie styf nie, bring nie op nie en lyk asof sy diep en deurdag na die preek luister.  Die pastoor praat oor God se almag, genade en vermoë om Jerigo se mure in elkeen se lewe af te breek, hy draai na die gemeente en vra:  “Glo jy dit?”.  Op daardie stadium het Julius vir sussa gekyk en gesien hoe sy antwoord:  “Ja, ja!”.  Hoe amazing is dit nie?
Ons is daagliks besig om die Wonder van Juneldè se herstel deur harde Werk te geniet.  Dus as mense vir my vra of ek in wonderwerke glo, sê ek heelhartig ja.  Ons leef een!  Hoekom die Here nie vir ons ‘n eensklapse, onmiddelike, kaboef en siedaar “ miracle” gee nie, weet ek nie. Maar ek vertrou ons soewereine God en begin begryp dat ek nooit op hierdie aarde gaan begryp nie.  Maar vir my is daar ook ‘n daaglikse keuse:  Gaan ek glo dat God is wie Hy sê Hy is, en dat Hy kan doen wat Hy sê Hy kan?  
En met ‘n dubbele oogknip en opkyk na die Hemel sê ek:  JA.

Wednesday, 15 January 2014

Al die Eerstes...




Eendag was daar ‘n man wat baie lank aan ‘n baie spesiale funksie by sy huis gereël het.  Hy het al die spesiale mense in sy lewe genooi en baie tyd en energie aan die beplanning bestee.  Die aand van die funksie het aangebreek en als het volgens plan verloop.  Sy geliefdes was daar en almal het lekker en ontspanne gekuier.  Mettertyd begin die man oplet dat sy buurman (met wie se norms en gewoontes hy nie saamstem nie) deelneem aan die verrigtinge.  Sy buurman is onbeskof en raserig en die man besluit om hom die deur te wys.  Met heelwat slag en stoot verwyder hy sy buurman en alles verloop weereens presies soos hy beplan het.  Maar na ‘n ruk raak hy bewus van ‘n oproerigheid en hy besef dat sy buurman op ‘n manier weer deel geword het van sy partytjie.  Deur die aand herhaal dieselfde situasie hom, en die man besluit om by die deur te sit, om sy buurman op heterdaad te betrap.  Hy weet nie hoe die man heeltyd inkom nie, en is gegrief oor die situasie.  Na ‘n ruk kyk hy rond en sien hoe almal heerlik kuier en besef dat hy besig is om uit te mis op al die mooi en lekker van die aand.  Hy besluit daar en dan dat alhoewel die onwelkome gas beslis nie die ideaal is nie, en hy dit andersins sou verkies het, hy eerder die pragtige geleentheid wil bywoon en geniet as om al sy tyd en energie te spandeer om sy buurman weg te hou…
Ek deel die verhaal omdat ons die afgelope maand en ‘n half deur heelwat “eerstes” na die ongeluk gegaan het.  Eerste verjaarsdag, eerste kersfees asook eerste jaarmerk…En tydens elke geleentheid was die gevolge van Juneldè se besering soos die onbeskofte, raserige buurman, ‘n  onwelkome gas in ons midde.  Ek het so hard probeer om positief te wees en te kies om elke spesiale gebeurtenis, wat so maklik totaal en al anders kon wees, te vier.  Maar kort-kort vang ek myself dat ek op Juneldè se seer spierspasma, gereelde braking en maagkrampe en gebrek aan deelname fokus.  Hierdie onwelkome gaste het die feestelikhede vir my versuur…
Sondag die 12de Januarie 2014 het aangebreek, en ons is saam as gesin kerk toe.  My gemoed was stormagtig na ‘n moeilike Desember waar ek en Julius sonder hulp vir die eerste keer na die ongeluk, alleen na Juneldè omgesien het.  Dit was fisies stremmend en emosioneel uitputtend.  En daar praat  die Here met ‘n besonderse boodskap.  Hy herinner ons aan Jesaja 43: 18-21:  Forget the former things; do not dwell on the past. See, I am doing a new thing! Now it springs up; do you not perceive it? I am making a way in…” 
En so lig ons genadige Here my uit die dieptes van frustrasie en desperaatheid.  Ek gaan sit en onthou van die kinderliedjie: “Tel jou seëninge, tel hul een vir een, en jy sal verbaas wees oor wat God jou leen….”
En met ‘n dankbare hart druk ek my liefielyfie vas, en beleef die seën van my kind se warmte en asem.  Ek besef dat sy hierdie jaar groot geword het, en nou werklik ‘n dogtertjie is en nie meer my baba.  Haar lyfie is lank en haar “baby fat” is weg.  Opsigself laat dit my in diepe verwondering, want dit is algemeen dat kinders met breinbeserings se groei stop of beperk word. Ek besef ook dat sy Junie 2013 laas ‘n groot epileptiese aanval gehad het, en dat haar gesondheid sedertdien ook besonders goed is.  Sy het geen koorsaanvalle, of gewone kinderkwale al gehad nie.  En ons was ook ses maande laas in ongevalle, uit nood gebore en getraumatiseer en diep geskok.  Haar linkerheup, alhoewel steeds nie in posisie met die regterkant, het ook wonderbaarlik nie verder uit pootjie uit geklim nie.  Een aand lê sy met haar bene in die lug en ek kielie haar linkervoet, groot was die vreugde toe sy willekeurig haar been optel en na links wegskuif en weer neersit!  Haar arms beweeg ook nou heelwat en ook meer en meer willekeurig, met die regterhand se duim en wysvinger wat gereeld voorwerpe vasvang…Wanneer ons ook ons poppie op haar maag laat lê druk sy met haar arms en bene in ‘n opsit posisie, en hou haar nek regop en draai die koppie van links na regs.  Verder kyk ek met groot genot en verwondering na haar gesiggie wat meer en meer begin “praat”, soveel meer uitdrukkings!  Hoewel daar nog tussenposes en dae van die “poker” gesig is, word die ander dae met bederfgesiggies soveel meer. 
En dan is daar swemterapie, waar ons sussa in verskeie posisies haar nek vir langer rukke regop hou en die kontraksie wat haar na agter dwing, probeer teenstaan…Verder eet ons liefiekind al hoe beter, vinniger en sonder verstik of opbring voorvalle.  En ja, sy het die week 20ml uit ‘n glasie gedrink! Gehoes en proes, maar gedrink en gesluk!
Die Here is voorwaar groot, goed en genadig.  En ek vra hom om my aan te hou help om nie op die “onwelkome gas” te fokus nie, maar elke dag as ‘n nuwe geleentheid te geniet.  ‘n Geleentheid om nuwe herinneringe te bou, om daaglikse wonderwerke en seën te beleef, en in verwagting en afwagting te leef op al die “eerstes” wat nog kom!

 

Tannie Marlene blaas borrels en ek verkyk my aan haar....





Eerste keer sit ek langs die swembad met my kop omhoog!


Kyk hoe lê ek op my maag vir die eerste keer in die swembad en hou my koppie op!

Eerste keer wat ek so sit en nek regop hou in die swembad

Liefde en genade lyk so...

Eerste keer wat ek so hangende aan oupa se arm aan die slaap raak

Eerste keer wat sussa so mooi en stabiel op haar polysterene stoel sit...

Eerste Botox vir die jaar, ons gebed is ook die laaste...

Botox op die 13de Januarie 2014,  eerste keer wat sy deur die hele hospitaalbesoek slaap!

Lekker ry sy rond in die geel gevaar....

Eerste keer wat ons poppie weer in haar gunsteling tjor ry, en haar niggie Benke stoot haar rond (oom Johan help sussa regop bly, en dit was baie warm daai dag)

Eerste keer wat Juneldè en haar niggie Benke in sussa se geel tjor speel, sussa kry 'n groot soen!



Sunday, 22 December 2013

Happy Birthday to you...


Soos ek is Juneldè ook ‘n Desember baba.  As kind het ek altyd met my ma baklei omdat ek en my boetie altwee in Desember verjaar en ander maatjies se verjaarsdae is op lekkerder tye.  Later toe ek beter verstaan dat mens nie jou kinders bestel nie, maar nog nie mooi besef dat beplan ook soms nie eers in jou hande is nie, het ek grootbek aangekondig dat ek dit nooit aan my kind sal doen nie!  En toe is my eersteling mooitjies ook ‘n Twaalfde maand baba…
Laasjaar in September rond vra Juneldè vir my hoekom al die maatjies verjaar maar sy nie? Mooi verduidelik ek vir haar dat haar verjaarsdag nog kom.  ‘n Hele ruk later kom vertel sy vir my erg gespanne dat mamma asseblief nou moet cupcakes en sweeties skool toe stuur sodat sy ook kan verjaar!  Hoogs ontsteld want dit is haar mamma se traagheid wat haar “happy birthday”  soos sy daarna verwys het, terughou! 
Hierdie jaar het ons haar 4de verjaarsdag herdenk op die 7de Desember.  Terwyl sy vir ses lange maande in verskeie hospitale was het ons gereeld beplan aan die fees wat ons gaan hou as sy tuiskom, met die vaste oortuiging dat sy volkome genees gaan wees.  Sy is alreeds 5 maande tuis en steeds het ons nie hierdie fees gehou nie, bloot omdat ons so vasgevang was in die mediese uitdagings rondom Juneldè se versorging…Maar ons kon nie 2013 laat verbygaan sonder om fees te hou nie, en het Juneldè se verjaarsdag as die gulde geleentheid gesien om haar lewe te VIER!
Die groot beplanning het begin en met baie hulp van ‘n Partytjiebeplanner (Linki Abrie van Koliki) het ons die dag aanmekaar gesit.  Met ‘n Dans-tema (Ballet), baie pienk, asook swart en wit polka dots…Juneldè is mal oor dans, en ek het beplan dat sy die afgelope jaar Balletklassie sou neem.  Ek kon al sien hoe die fyn lyfietjie wat altyd op haar tone loop en hardloop, die kuns van die Tutu bemeester…Vir my was die tema van Ballet weereens ‘n simbool van dit waarop ons hoop, maar nog nie kan sien nie –  ‘n poppie wat weer kan dans, in die rondte draai en oopmond lag.








Ons het ook saam as man en vrou, en mamma en pappa, ‘n kers van lewe aangesteek.  Simboliek van Geloof, Hoop en Liefde en die vertroue wat ons in ons Hemelse Vader stel.  As geliefdes het ons weereens saamgebid en gevra na die begeertes van ons harte.
 
Juneldè het soos ‘n prentjie gelyk in ‘n swart en wit polka dot rokkie en tot op die grond pienk tutu, afgerond met Balletskoentjies…Sy het haar in al die aandag gebaai en die mooiste persentjies gekry.  Dit was ‘n dag van vreugde, ‘n fees van lewe, ‘n gebaar van oorgawe, en ‘n keuse om positief te wees, te vertrou, en die genade tot nou en die wonderwerke tot vandag raak te sien, dankbaar voor te wees en Sy naam Groot te maak!




Monday, 9 December 2013

Hoe gaan dit met Juneldè?

Ek onthou nog so goed een dag wat ek Juneldè by die skooltjie gaan kry het en haar vra wat  hulle by die skool gedoen het.  “Ons het liedjies gesing, mamma” was die antwoord…”En hoe gaan die liedjies?” vra ek.  “Goed  dankie mamma”, kom die bekkige antwoord.
Ons het vele sulke oomblikke gehad en die klein lyfie kon omtrent met koddighede vorendag kom.  Deur na die lewe deur haar oë te kyk was ‘n fees, ‘n unieke ervaring.  Dis hoeka die Vrydag voor die ongeluk wat ons in die motorhuis stop en ek sien die mondjie eet te lekker.  Maar ek weet ook ek het geen peuselhappie uitgedeel nie.  “Wat eet jy my liefie?” vra ek.  “’n ‘goggo’ mamma” antwoord sy en beduie na haar neus.  “Ag nee my liefie, siessa!”  berispe ek.  Sy kyk vir my met daardie groot oë en sit haar hand op my arm: “Toemaar mamma, Juneldè s’n is lekker.”
En dan is daar die dag wat sy haar ouma op die Vrystaatse vlaktes in die midde van hoogsomer laat rondloop opsoek na diere.  “Ag nee my skat, hier is Boggerol!” is ouma se uitspraak na ‘n ruk.  “Waar is die Boggerol?!” Kom Juneldè se opgewonde gretige antwoord.  Uiteindelik kry hulle iets!  Boggerol het sommer gou ‘n woord in haar woordeskat geword en toe ons eendag vra hoe lyk ‘n Boggerol kom die antwoord.  “Hy is pienk!”
En dan die vreugde van elke oggend wakker word met haar “Môre, Môre klassie” wanneer sy op ons bed opspring.  So oulik by haar juffrou afgekyk!
Dis hierdie oomblikke wat vassteek en die vraag; “Hoe gaan dit met Juneldè?”  soms moeilik maak.  Want die antwoord is eenvoudig, dit gaan goed met haar.  Baie goed!  As ons nie terugdink verder as 13 Januarie nie en besef hoe ver sy reeds gekom het, is daar slegs een woord wat uitstaan: Genade.  Wat ons het is net genade…Genade onbeskryflik groot het Hy aan ons bewys.
Juneldè het ‘n baie sterk persoonlikheid en kan regtig mens baie vinnig om haar vingers draai.  Sonder dat jy ooit mooi besef gee mens vir sussa net wat sy wil hê.  Jongie, sy weet hoe om te hoe…Dit was veral hierdie eienskappe wat ek so oneindig gemis het veral in die begin maande na die ongeluk wat sy ‘n lappop lyfie met glasige ogies gehad het.  Dit het my prinses baie lank gevat om uit haar diepe slaap te ontwaak.  Maar nou die dag besef ek, die groot Koning het haar onder ons neus aangeraak en wakker gemaak.  Vir haar was dit nie ‘n oombliklike wakker skrik nie, maar ‘n stadige proses.  Nou is sy wakker…Sy is steeds beperk in haar mobiliteit en spraak.  Haar ogies sien pragtig maar fokus nie altyd presies op gesigte nie.  Maar jongie, niks van hierdie beperkinge stop haar om weer talle grootmense rondom haar te lekker te laat spring nie!
Saam met die bewus wees van haar omgewing kom ook emosionele einas en uitdagings.  Sy is so oneindig gefrustreerd.  Bewus van haar beperkinge, wil graag buite speel, en rondhardloop en praat en sing en dans.  Vir ‘n mensie wat soveel energie het en lewenslus moet die tronk van immobiliteit baie erg wees!  Dit breek ‘n mamma-hart.  Ek kan net hoop dat die frustrasie ‘n voertuig van motivering word, wat haar herstel verspoedig.  Ag, hoe HOOP ek die breintjie leer om haar lyfie te laat beweeg!  Die enigste manier om aan haar frustrasie uitdrukking te gee is ‘n stywe lyfie, die spasmas het nou ‘n duidelike oorsprong en sy kan vir ure en dae aaneen huil…
In die aande wat dit my beurt is vir nagwaak kan ek my verkyk aan Juneldè.  Haar lyfie rek en strek al self, sy lag soms hardop in haar slaap, en sodra mens die komberse lig om haar posisie te verander begin sy al self te beweeg om te “help”.  Soms hoor jy hoe sy skarrel en dan verander sy sommer self haar posisie, en die hoogtepunt is as haar bene die komberse so skop skop afwriemel.  So bekend en normaal, druppels in ons emmer van hoop.

Ons is ook dan nou opreg dankbaar dat sy so nou en dan lekker kan rol.  Van haar rug na haar sy, of van die sy op haar maag, of van haar sy na haar rug.  As mens met haar op jou skoot sit en die lyfie vooroor buig is sy mal daaroor indien haar ruggie gevryf word.  En wanneer sy besluit om haar kop op te tel word haar vuis-hande en onderarms soms ingespan om die koppie te help lig.  Te kostelik.

Sy eet ook lekker…Op haar termes natuurlik en te oulik hoe sy nou duidelike smaakvoorkeure begin wys.  Sommige kos is sleg en word summier uitgespoeg!  Ouma moet omtrent nou kopkrap om die streng organiese dieet met sy geen suiker of sout en sommer baie groen groentes aptytlik te maak.  Sommige dae word die pruilbekkie summier op ‘n knop getrek en kan geen lepel verby die lippe-hek beweeg nie.  Dan einde raad word die maag-pypie maar weer ingespan.  Op die ingewing van die oomblik het ek ook laas week vir haar ‘n bottel gaan koop om te kyk of sy sal suig en sluk.  Met vele waagmoed en ontkenning van die risikos druk ek daai bottel in haar mond en sy suig en sluk dat die biesies bewe.  Wat ‘n vreugde!  Die proses is maar nog langsaam maar deur die loop van die dag maak sy nou ‘n 80ml bottel leeg.  Wat ‘n seën en groot bydrae tot ons emmer waarin ons die druppels hoop en wonderwerke opvang om op moeilike dae aan vas te hou…

Dus kan ek met ‘n breë glimlag vir jou antwoord, dit gaan baie baie goed met Juneldè.  Steeds is ons smeekbede vir volkome herstel…Om haar beentjies weer vinnig te sien hardloop.  Haar op haar tone te sien dans en in die rondte te sien draai met ‘n feetjie-rok.  Om weer mammie en pappa uit haar mond te hoor en haar skerp humorsin en lewensuitkyk te geniet.  Meer as dit is ons gebed dat die pad vorentoe nie meer lank sal wees nie.  Maar vir nou kan ek opreg sê:  “I would not have chosen this journey, but I sure do love my Tourguide…”


Wednesday, 27 November 2013

(Wimpy Wifi 1) Op hierdie reis...




Ek wil begin deur verskoning te vra dat ek so lanklaas geskryf het.  Die Gauteng storms het ook ons internet raakgeslaan.  Ons was oortuig (en hoopvol) dat dit die telefoon lyn is, maar heelaas na twee weke op Telkom wag is bevind dat die modem vervang moet word.  En jislaaik, het jy geweet hoe duur is hierdie outjies?  Ons is besig om pryse teen mekaar op te weeg en sal hopelik binnekort weer meer as selfoon toegang tot die kuberruim he.  Ek dreig dus elke dag om gou by Wimpy te stop en my blogs te laai, in die oggende kan ek al die Wimpy koffie en kaasburger proe, net om aan die einde van die dag weereens nie by die rooi W uit te kom nie.  As jy voel asof jou dae baie lank is, weet net dis omdat jy van my ure mahala gekry het, want ek het verseker nie 24 uur in my dag nie!  Hier dan ‘n blog wat ek op 13 November 2013 geskryf het…
Op hierdie reis…
Vandag is dit al 10 maande sedert ons reis begin het.  ‘n Tog wat ek verseker nie voorspel het of selfs wou meemaak nie.  Die Here is waarlik die enigste ware gids wat ons lewe vooruit bepaal.  Ek het soveel ewigheidswaarde lesse geleer tot nou, en alhoewel die berge soms te steil, die ruigtes te onherbergsaam en die dieptes soos ‘n moeras gelyk het, was die Here elke tree my rigtingwyser.  Ek is nie eers seker hoe ek dit tot hier gemaak het nie.  En hoe gaan ek staande bly tot die eindbestemming? 
Tog wil ek nie soos die Israeliete wees en tenspyte van deel wees van groot wonders en bewyse dat die Here my weë bepaal, steeds twyfel en bevrees wees oor die toekoms nie.  Die Here het my vanaand laat peins oor die lesse van ons reis…
Geloof in aksie: Ons God is nie een vir pleisters plak en wegskram van seer nie.  Hy is ‘n God van genesing.  ‘n Swembad is gebruik om Juneldè amper van ons weg te ruk, voor haar tyd.  My en Julius se onmiddelik behoefte was om hierdie swembad toe te gooi, om nie weer na hom hoef te kyk en herinner te word aan die beelde van daardie dag nie.  Maar die Here se wil het anders bepaal.  Hy gebruik water as deel van Juneldè se genesingsreis.  By die swemterapie ervaar sy ‘n ontspanne lyfie en kan ek sien hoe sy dit geniet.  In die water is haar glimlaggies meer teenwoordig en kan ek my verkyk aan al die emosies op haar gesig.  Stelselmatig kom ons agter dat die drie keer per week se swemterapie nie meer genoeg is nie en dat sy werklik elke dag tyd in die water moet spandeer.  Haar terapeut stel voor dat sy vir my en Julius leer om van die eenvoudige terapie self te doen, en ons besef ons sal ons swembad weer moet volmaak…Die eerste keer wat Julius met Juneldè in die water is is emosioneel uitdagend, dit is ook die eerste keer na daardie dag wat hy en sy poplap weer in ‘n swembad is en telkemaal as haar lyfie verslap en onstpan word die sweer van opgekropte emosies en seer in my man se hart oopgekrap.  Dis ‘n eina dag maar ook ‘n gesondword oomblik.  Die wonde kan uiteindelik nou genees.  Ons swembad is in die proses om weer volgemaak te word en ons is besig om die verhitting te herstel, binnekort sal ons gereeld met Juneldè hier tyd spandeer.  Die Here dryf mens telkemaal na die donkerste gedeeltes van jou siel sodat Sy lig weer daarop kan skyn.
Onvoorwaardelike liefde: Om los te maak van die menslike aard om te vergelyk en meet is nie maklik nie.  Die Here leer ons op hierdie reis om onvoorwaardelik lief te hê.  Ons as ouers van ‘n gesonde kind het nie besef  hoe veel ons ons liefiekind teen ander opmeet nie.  Hoeveel ons vergelyk en hoe ons trots gefokus is op dit wat ons sy kan doen wat haar maats nie kan doen nie.  En toe word sy in ‘n oogwink uit die norm uitgeruk en is haar pad uniek en ontwikkeling sonder ‘n handleiding of maatstaf.  Ek en Julius word daagliks met die realiteit gekonfronteer van dit wat sy nie meer kan doen nie, en ons kan so maklik vasgevang raak in die dryf om weer hierdie dinge te sien en beleef.  Maar die reis is eerder een van liefde, om haar onvoorwaardelik lief te hê, te omarm, te koester en haar te oortuig dat wie en wat sy is vir ons meer as genoeg is.  Ons is trots op haar!
Rigtingwysers: Die enigste rigtingwysers op ons pad is die Here, Sy woord, Jesus en die kruis asook die Heilige gees.  As een van hierdie elemente vervaag verloor ons ons rigting.  Dan is die ware noord verduister en ons bestemming onseker.  Op hierdie dae is die vrae baie en die hartseer intens.  Steek vrees sy kop uit en negatiwiteit kry ‘n plek in ons wese.  Slegs deur terug te draai na Hom, en tyd saam ons God te spandeer laat die mis op ons pad verdwyn .  Soveel maal is my gebed:  “Here ek is lief vir U, help my waar ek nog ongelowig is”.
Eindbestemming:  Bo alles het ek geleer dat die reis so belangrik is soos die eindbestemming.  Ons kies om elke dag te glo dat Juneldè volkome gaan genees.  Hierdie geloof en hoop is geanker in duidelike beloftes wat die Here ons gegee het.  Vir ons op ons pad sou dit ongelowig wees om nie hieraan vas te hou nie.  Dis slegs deur ‘n intieme verhouding met Hom wat die Heilige Gees jou die vrede gee om teen die wêreldse stroom van prognoses te beur en vas te staan in geloof en hoop en liefde.  Maar al wat ons het is vandag, en vandag is so belangrik soos die wonderwerk aan die einde…


Tuesday, 29 October 2013

Die wonderwerk van eet, 'n lang glyplank en helder mure...


Van die mens se eerste instinkte, wat by ‘n pasgebore baba dadelik sigbaar is, is die vermoë om te kan eet.  Om kos met die mond in te neem, te sluk en voedingswaarde uit daardie kos uit te kry wat die liggaam instand en sterk hou asook instaatstel om te groei.  Dan is daar ‘n mamma se moedersinstink wat hierdie baba-behoefte  raaksien en die wonderlike gevoel as mamma baba dan kos gee.  Dis so reg, so binne die skeppingsplan…
Dit was vir my dus baie moeilik om vir drie weke lank na 13 Januarie te sien hoe Juneldè haar kos deur ‘n pypie in die neus na die maag inneem.  Maar die gemoedsrus het daarin gelê dat wanneer sy haar bewussyn herwin, sy weer daardie pragtige pruilmondjie sal gebruik om te suig, kou, eet en sluk…Om dan  gekonfronteer te word met ‘n mediese prosedure wat jou kind deur ‘n maagbuisie kos gee, is uiters moeilik.  Die geveg tussen die kop besef dat hierdie prosedure dit is wat Juneldè nodig het, en dat sy op geen ander manier kan voedsel inneem nie, kontrasteer teenoor die hart behoefte om ‘n mondjie te voer en te sien proe en sluk.  Maar woorde soos dysphagia word opgelees en nagevors en uiteindelik word ‘n maagbuis (gastric-tube) in haar magie gesit.  Vir maande is dit al manier waarop ek my poppie kan voer, en is ek danbaar oor die mediese navorsing wat haar so kan help.
Daar was telkens tye wat die opgewondenheid groot was omdat Juneldè kossies begin eet , so min en so moeilik, maar tog daar.  En dan Junie maand die groot terugslag wat sy opnuut weer ‘n hipoksiese breinbesering opdoen, en hierna nie meer wil eet…
Ek voel dus of ek moet vra vir ‘n oomblik van “drum-roll” voor ek die volgende aankondiging maak.  Juneldè eet gemaklik, sluk onmiddelik en proe alles!  Sy het haar goeie en minder goeie dae maar sy eet gemiddeld elke ete en tussen-happie per mond…Hierdie is ‘n wonderbaarlike gebeurtenis, en ek slaan my hande en wese in dankbaarheid op na ons Vader.  Vir ons is gesê Juneldè sal nooit self kan asemhaal nie, en tog het die Here medici verkeerd bewys.  Die uitspraak daarna was dat sy nooit sal kan sluk, proe of eet nie en dat die erge refluks wat sy het, met periodieke braking en long aspirasie, deel van haar toekoms gaan wees wat ons net moet aanvaar.  Binne die afgelope twee weke het hierdie prognose by die deur uit gevlieg en is dit vir my as mamma ‘n nederige, wonderbaarlike, lofprysende voorreg om my meisiekind met die mond te kan kossies gee!  Ons volgende mylpaal is dan dat sy vloeistof per mond kan inneem, dus ‘n kleuter-bekertjie kan gebruik en dan oplaas ‘n glas.  Anders as wat mens sou verwag is dit juis hierdie dun vloeistof wat baie maklik in die verkeerde pyp afgly reguit longe toe.  Eers dan sal ons van die maagbuisie kan ontslae raak.  Maar ek het geen rede om nie in vaste geloof, hoop en vertroue te weet dat ook dit vir ons in die toekoms beskore gaan wees, want Hy is getrou!
Wat ons tuisprogram aanbetref, sjoe ons werk hard!  Ons het ‘n druk program wat baie herhaal word deur die dag sodat die brein deur die proses van intensiteit, gereeldheid en tydsduur (intensity, frequency and duration) nuwe breinpaadjies kan vorm.  Ek kan met trots sê dat ek dus nou, addisioneel tot my rolle van vrou, ma en tuisteskepper ook nou daagliks ‘n brein laat groei, wat ‘n voorreg.  Ek besef met verwondering hoe fantasties die Here se skepping is, en ek loof Hom vir elke neuron, aksis, breinmassa en elektries impuls se herstel. 
Deel van die program is om Juneldè se brein weer te leer dat die vier ledemate se hoofdoel is vir mobiliteit.  Ons sit haar op ‘n lang glyplank, plat op haar maag teen ‘n helling sodat selfs die geringste beweging haar laat vorentoe beweeg.  Sy kla maar lekker, nie te mal oor die sensasie nie, maar na twee weke se statiese lê op hierdie glyplank het sy skielik begin vorentoe beweeg, en het my gejuig en handeklap haar kla-huil ver oorskadu!
Verdere goeie nuus is dat haar ogies, wat twee weke terug net lig en skadu, swart en wit en buitelyn kon sien, nou helder kleure kan raaksien en waardeer, ‘n rooi penflitsie se lasar kollietjie volg, en haar verkyk aan die abstrakte, helde kunswerke wat ek teen haar muur opgesit het.  Ons het ook begin om helder papiertjies (sticky-notes) op haar swart en wit bord te plak en help haar om dit raak te sien en te probeer afhaal.  Ons begelei die handjie, maar keer op keer kry ek trane in my oë as ek sien hoe haar wysvingers uitkom en die papiertjie raak probeer vat.  Sy kry dit ook dan reg en hou vas aan daai blommetjies wat sy vang.
Die twee weke was wel tog nie sonder voorval nie, en laas week Donderdag het sussa so diep geslaap dat ons haar geensins kon wakker kry nie.  Na vier ure het sy nie ‘n lig- of pynrespons gehad nie en na ons haar nie eers tydens die swemterapie kon wakker kry nie, het ek angstig en paniekerig Unitas toe gejaag.  Reëlings is getref vir haar opname, maar tussen die rit vanaf Garsfontein tot Unitas het poplap besluit dat die wêreld nou skielik weer interessant klink en begin wakker word!  Ek was baie dankbaar hieroor, alhoewel my geloofwaardigheid effens in twyfel getrek word na ek die wawyd wakker kind by die Neuroloog indra, terwyl die dringende boodskap was dat sy amper in ‘n koma-staat is!  Nietemin, toe die lyfie besef sy is by die hospitaal het sy stokstyf geskop en baie angstig geword.  Dit is duidelik dat sy nog baie getraumatiseer is deur hierdie omgewing.  Die neuroloog het bloedtoetse aangevra en is van die opinie dat Juneldè se huidige medikasie dosisse te sterk vir haar begin raak.  Ons het dus ook nou met ‘n stadig detoks proses begin, wat pynlik moeilik is want ons liefielyfie kry erge onttrekkingsimptome.  Maar die nuus is so verblydend dat sy neurologies al soveel verbeter en verander het in bietjie meer as 3 maande dat haar medikasie al aangepas kan word.
Drie keer ‘n week swem sussa dus nog lekker, en water is die een plek waar ons weet  sy ons met haar pragtige glimlag gaan bederf.  As sy in die warm swembad water gesit word helder haar gesiggie op en staan die mamma-razzi reg vir foto’s.  Ook badtyd is ‘n vreugde want die mondjie lag en die ogies lag ook saam.  Ter wille van hierdie oomblikke van blye emosie op haar gesig, en die saligheid wat sy uitstraal, wens ek soms ek kan haar sommer heeldag net daar hou!
Ek gaan werklik my bes probeer om meer gereeld te skryf en dis so spesiaal dat daar soveel  belangstelling en aanmoediging is vir Juneldè se herstel.  As jy in gebed tot die Here nader, dra haar asseblief aan Hom op, in danksegging oor wat is en in geloof oor die wonderwerk wat kom.  Bid ook asseblief vir my en Julius se daaglikse geveg om die gees van swaarmoedigheid te verruil vir die kledingstuk van lofprysing.  Dis nie maklik nie en meer as nege maande se stres en trauma kry ons onder.  In Sy woord kry ons egter soveel aanmoediging en versterking asook deur geloofsvriende wat saam ons bid en vir ons instaan…